Jabes neem hartseer afskeid van pleegmoeder Ronella van Niekerk
Pleeghuis-families groet nóg 'n staatmaker, 8 maande na medestigter Ronel Riekert se dood.
VANDERBIJLPARK. – Skaars agt maande nadat die Jabes Foundation en pleeghuise van die medestigter, mev. Ronel Riekert, moes afskeid neem, is die stigting van vooraf in rou gedompel met die afsterwe van nóg ‘n steunpilaar, mev. Ronella van Niekerk (61).
Vaalweekblad het in Februarie berig dat mev. Ronel Riekert na ‘n stryd teen myelofibrose oorlede is. Mev. Ronella van Niekerk, haar skoonsuster en self een van die pleeghuismoeders, het op 23 Oktober beswyk nadat sy sedert 2018 teen kanker geveg het.
Volgens mev. Rina Riekert, skoonsuster van die twee vroue, was Ronella die huismoeder van Jabes Foundation se Sonneblomhuis en het ten tyde van haar dood vyf kinders in haar sorg gehad. Sonneblomhuis is in Augustus 2012 geopen en Ronella het deur die jare sowat 80 kinders daar versorg.
“Sy was lief vir die kinders en het altyd kans gesien vir nog een. Sy was ‘n steunpilaar in ons organisasie wat altyd in noodgevalle of onvoorsiene omstandighede uitgehelp het tussen die ander drie huise. Sy het ‘n ferm hand met moeilike tieners gehad en hulle weer sin in die lewe gegee,” sê Rina.
Ronella het in Vanderbijlpark grootgeword en aan Laerskool Voorslag en Hoërskool Transvalia skoolgegaan. Sy was ‘n raakvatter wat haar volle gewig by Jabes se pleeghuise ingegooi het. Sy is in November 2018 met kanker gediagnoseer en het in Desember daardie jaar ‘n groot operasie ondergaan om ‘n gewas van 3 kg te laat verwyder.
“Sy het in die opvolgende drie jaar altesaam 20 chemo-sessies ontvang maar dit het die kanker nie genees nie. Sy het elke chemobehandeling braaf aangepak en het na ‘n dag of twee weer normaal aangegaan met haar daaglikse verpligtinge met die kinders. Sy was ‘n ystervrou wat nooit gaan lê het nie en moedig teen die kanker geveg het,” sê Rina.
“Ronella het weer begin siek word op ons seevakansie in die eerste week van Oktober, waar ons ons hartseer oor Ronel wou verwerk deur haar as in die see te gaan strooi. Ons is dankbaar dat ons die voorreg gehad het om Ronella saam te kon neem op hierdie spesiale geleentheid. Ons kon ‘n paar laaste kosbare herinneringe saam met haar maak. Sy kon wel nie die hele vakansie bly nie, want toe sy siek word, het ons haar laat terugvlieg na haar dogter in Kemptonpark, waar sy op 12 Oktober sou begin het met nuwe chemobehandeling. Dit kon egter nie gedoen word nie omdat sy te swak was. Sy sou die hospitaal weer in November besoek het. Op Vrydagoggend, 22 Oktober het haar dogter vermoed dat Ronella ‘n beroerte gehad het en haar hospitaal toe geneem. Die huisvaders van die Kosmos- en Frangipani-huise is ook hospitaal toe om haar te besoek, waar sy die Saterdagmiddag, 23 Oktober oorlede is.”
Ronella se Sonneblomkinders word tans versorg tussen die huisouers van Kosmos-huis (Johan Riekert) en Frangipani-huis (Ben en Rina Riekert).
Sy word oorleef deur drie broers, drie kinders en drie kleinkinders. Haar roudiens is op 3 November by Kompas-gemeente in Vanderbijlpark gehou.
* Die Jabes Foundation wil Ronella se Sonneblom-huis graag aan die gang hou omdat die behoefte aan sulke pleeghuise so groot is. Mense met ‘n passie vir die soort werk wat Jabes Foundation doen en graag as huisouers by hulle wil aansluit, kan hul CV’s e-pos na info@jabes-sa.co.za vir aandag Rina Riekert.




**********************************************************************
