VANDERBIJLPARK. – Die gesellige stem en vrolike musiek van 90.6FM se gewilde omroeper, Marius Dreyer, het die afgelope 10 jaar ‘n huppel in baie luisteraars se dag gesit. Die slegte nuus is dat Marius op Vrydag, 26 November, die laaste keer op die lug was.
Na 25 jaar hang hy nou sy mikrofoon en oorfone op.
Hoewel hy steeds in ‘n administratiewe hoedanigheid by 90.6 betrokke gaan bly, gaan hy op sake agter die skerms fokus, soos bemarking, die hantering van funksies en die reël van onderhoude met kunstenaars.
Marius is in Potchefstroom gebore en getoë en het aan die Hoër Volkskool gematrikuleer.
Teen die einde van sy tweejaar diensplig het hy op die ingewing van die oomblik besluit hy wil ‘n radio-omroeper word.
“Ek het daardie tyd baie na Long John Berks op Radio 702 geluister en het gedink dit is wat ek ook wou doen.
“Ek skakel toe die SAUK om te hoor wat ek moet doen om ‘n omroeper te word.
“Hulle skakel my deur na Flip Swart en die res is geskiedenis. Na my diensplig het ek die Januarie daar begin werk – aanvanklik as klankman by die SAUK en daarna by Radio Hoëveld, waar ek onder Sarel Marais gewerk het. Hy was my mentor wat my alles van uitsaai geleer het,” sê Marius.
Na ses jaar by die SAUK het hy die korporatiewe wêreld betree. In 1995 toe hy toevallig deur die Vaaldriehoek ry, hoor hy dat die plaaslike radiostasie na ‘n omroeper op soek is. “Ek het aansoek gedoen en die werk gekry!”
Sedertdien het Marius diep spore in die Vaal getrap, die radiogolwe behoorlik geskud en ‘n geliefde naam in menige Vaaldriehoekse voorhuis geword. Hy was aanbieder van die gewilde Afrikaanse Top 30-program op Sondagmiddae en het later beheer geneem van die radiostasie se buite-uitsaai-eenheid.
Hy het ook die lekkerluisterprogram, Ken Jou Kunstenaar, aangebied, waarin hy onderhoude met die room van Suid-Afrikaanse kunstenaars gevoer het. Hy het in dié program ook blootstelling gegee aan nuwe talentvolle kunstenaars in die Vaaldriehoek. Met sy ontbytprogram Morning Mix @ 6 het hy seker gemaak dat plaaslike luisteraars die slaap soggens vrolik uit hul oë kon vee.
Goeie Afrikaanse musiek en liedjies uit die 1980’s is sy gunstelinge.
Luisteraars het gou agtergekom dat Marius 100% tweetalig is.
“Ek het in ‘n heeltemal tweetalige huis grootgeword. My pa was ‘n ‘Boere-Soutie’ wat ook in ‘n tweetalige huis opgegroei het, daarom is dit vir my maklik om tussen die twee tale te wissel,” sê hy.
Marius is vol lof vir sy vrou, Amanda, wat hy as ‘n “go-getter of note” beskryf.
“In 2010 moes ek ‘n groot operasie ondergaan en is amper oorlede. Later moes ek ‘n hartomleiding kry.
“Deur dit alles het Amanda by my gestaan. Sy is ‘n fenomenale vrou. Sy is in die eiendomsbedryf en doen besonder goed, juis omdat sy so ‘n toegewyde mens is.”
Marius is die pa van twee dogters uit sy eerste huwelik en het ‘n seun saam met Amanda.
Buiten sy gewone werk, wil hy ook motiveringspraatjies aanbied en aandag gee aan ‘n ander geliefkoosde tydverdryf: Skilder.
Min mense weet dat dié talentvolle man ook ‘n kunstenaar van formaat en meesterlik met die verfkwas is.
“En as Covid verby is, wil ek weer feeste bywoon. Ons gaan in die Vaaldriehoek aanbly want ek het die afgelope 25 jaar ‘n Valie in murg en been geword,” sê hy.
90.6 se stasiebestuurder, Gilbert Antunes, het Marius Vrydag geloof vir die wyse waarop hy die stasie se naam nog altyd hoog gehou het en ‘n groot ambassadeur vir VCR / 90.6 was. “Ons bedank Marius vir al die herinneringe, die lag en die persoon wat hy vir ons, die radiostasie en die luisteraars is, asook al die mense wat hy oor die jare aangeraak het,” het Antunes gesê.
Kyk en luister na dié genotvolle video van Marius se laaste amptelike dag agter die mikrofoon (Video deur Chilli PicNic):


