Hoofsweep sê: As jy ‘n span in Midvaal sien werk, toet, waai en sê gerus dankie.
Dankie aan elke eenhonderdste inwoner wat verstaan dat gate wat in twee dae in 2 000 km² opduik, nie in twee dae reggemaak kan word nie.
Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
‘n Laerskoolseun wat ‘n saamrygeleentheid in die middae kry, spring een middag op die bakkie in gietende reën. In die wegtrek val sy boeksak af in ‘n reuse plas modderwater. By die huis ontdek hy sy skrifte se blaaie is verrimpeld en verbleik. Hy doen sy huiswerk op eksamenblaaie en die volgende dag by die skool verduidelik hy mooi wat gebeur het.
Groot was sy verbasing toe hy na die hoof se kantoor gestuur word en ses van die bestes toegedien word. Na ‘n oor vol van kwaai opmerkings vra die seun verbaas: “Maar meneer dit was ‘n ongeluk en ek het solank my huiswerk op ander papier gedoen. Wat anders moes ek doen?” Die hoof antwoord: “Ek wil niks hoor van jou verskonings nie. Dis reg of dis weg.”
Sjoe. Dit klink bitter onregverdig. Die afgelope paar weke het ons ongekende reën en donderstorms in die Vaal ervaar. Dit bring oorstromings, gebreekte bome, baie modder en slaggate. Talle van die probleme kan nie in stormweer, wind en blitse opgelos word nie, maar Midvaal doen wat hulle kan wanneer en waar hulle kan. Ongelukkig hoor mens mos net van die mense wat kla en nie van die wat tevrede is of die “ACT OF GOD” verstaan nie. Ons hoor midde die reëns: “Ek wil niks hoor van jou verskonings nie. Dis reg of dis weg.”
Dankie aan elke eenhonderdste inwoner wat verstaan dat gate wat in twee dae in 2 000 km² opduik, nie in twee dae reggemaak kan word nie. Die verskil is dat in Midvaal werk ons aan die probleme, daagliks… Dit mag dalk nou langer vat, maar hoe eet jy ‘n olifant?
As jy ‘n span sien werk, toet, waai en sê gerus dankie. As jy ‘n sosiale media plasing sien wat wys waar hulle werk, probeer om nie nog ‘n klagte by te voeg op ‘n platform waar die regte mense dit nie gaan sien nie. Ondersteun hulle eerder, gooi ‘n duim op en gebruik die toep (MyMidvaal app of klagtelyn). Dit is die regte ding om te doen.
Trotse Midvaal groete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App
******************************************************************************************
