NewsSchools

Só word geliefde oudskoolhoof deur leerlinge en kollegas onthou

Dr. Sam Pellissier het duisende leerlinge se lewens verryk

SASOLBURG. – Een van die Vaaldriehoek se legendes op onderwysgebied, dr. Sam Pellissier, is verlede week in die ouderdom van 95 in die Kaap oorlede. Hy het op 7 Januarie stil in sy slaap gesterf nadat hy twee weke tevore ‘n beroerte gehad het. Dr. Pellissier se strewe was dwarsdeur sy onderwysloopbaan om die lewe van elke leerling te vul met baie meer as net akademiese kennis. Onder sy leiding as hoof van die Hoërskool Sasolburg het hy verseker dat elke kind ook ‘n waardering ontwikkel vir die kunste, sport en kultuur, wat hulle lewenslank sou bybly.

“My pa het ‘n vol lewe gehad,” het sy seun, Theo, verlede Vrydag hartseer aan Vaalweekblad gesê.

Dr. Pellissier het sy onderwysloopbaan in die 1950’s by die Oranje Meisieskool en Eunice Girls High begin, waarna hy verder aan die Cambridge University in Engeland studeer het.

“Dit het sekerlik die weg gebaan vir sy filosofie dat die totale kind opgevoed moet word. Kunste, sport en akademie was vir hom ewe belangrik en hy kon generasies van kinders inspireer om passievolle volwassenes met ‘n dors na kennis te word,” sê een van sy oudkollegas, me. Rina Coetzee, wat jare lank onder dr. Pellissier as hoof, aan Hoërskool Sasolburg verbonde was.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy by ‘n skooltjie met net 130 leerlinge in Zastron begin skoolhou en nuus gemaak toe sy klein spannetjie – met hom as uitmuntende sportafrigter – verskeie groot skole in Bloemfontein kon klop. In 1961 het hy ‘n pos by Hoërskool Sasolburg aanvaar en dit in die volgende 30 jaar tot een van die spogskole in die land laat ontwikkel.

Sy unieke onderwysbenadering het vinnig aandag getrek. Hoërskool Sasolburg was moontlik die eerste skool in die land waar klassieke musiek gedurende pouses in die gange weerklink het en waar koerantleesperiodes en ‘n vraebank ingestel is. Hy het ook pottebakkery en ‘n fotografieklub gevestig en leerlinge blootgestel aan kunsuitstallings, natuurkampe en oorsese reise, wat baie oudleerlinge tot in hul oudag sal onthou. Baie van hierdie reise is geboekstaaf danksy nog een van dr. Pellissier se genotvolle tydverdrywe, fotografie. Talle van hierdie foto’s is steeds teen die mure van die skool te sien.

“Dr. Pellissier was ’n wêreldreisiger en het alles wat hy tydens sy reise beleef het, in sy passie vir die onderwys aangewend. Sy visie vir Hoërskool Sasolburg is onder meer geïnspireer deur ’n skool wat hy in Hollywood, Los Angeles, besoek het. Met sy terugkeer het hy die Departement van Onderwys oorreed om sy planne te gebruik vir moderne laboratoria en ouditoriums by Hoërskool Sasolburg. Dit was ‘n eerste in Suid-Afrika,” sê Rina.

Buiten sy taak as skoolhoof het hy ook steeds Skeinat as vak aangebied. Sy destydse leerlinge onthou tot vandag toe hoe hy ingewikkelde wetenskaplike konsepte maklik verstaanbaar kon maak in die praktyk – of dit nou was deur “bomme” tussen die koppies te skiet of om sy nuwe Kombi op te hys om die werking van hefbome te illustreer.

Sy uitsonderlike manier van klasaanbieding het hom in 1990 die Universiteit van Pretoria se gesogte Technotron-prys as mees innoverende wetenskaponderwyser in die land besorg. Hy het ook ‘n eredoktorsgraad van Unisa ontvang vir sy bydraes op onderwysterrein.

Met sy aftrede in 1991 het hy aan Vaalweekblad gesê hy voel tevrede dat hy deur die jare alles wat hy van homself kon gee, ingesit het om die lewe vir Hoërskool Sasolburg se leerlinge beter en meer betekenisvol te help maak.

Dr. Pellissier word oorleef deur sy vrou, Alta, wat self diep spore as Engels-onderwyseres by Hoërskool Sasolburg getrap het, sowel as sy kinders, Eleanor, Samuel, Theo en Juan-Pierre, sy skoonkinders en kleinkinders.

Die Pellissier-egpaar het die afgelope twee jaar in Somerset-Wes gewoon. ‘n Troosdiens is Woensdag, 12 Januarie, uit die NG Moederkerk in Stellenbosch gehou.  

‘n Onlangse foto van mnr. Sam Pellissier en sy vrou, Alta.

 

Mnr. Sam Pellissier (regs) het in 1990 die Universiteit van Pretoria se Technotron-prys van R50 000 ontvang as mees innoverende Skeinat-onderwyser in Suid-Afrika. Links is die universiteit se destydse rektor, prof. Danie Joubert.
Foto: Vaalweekblad-argief

 

Sam en Alta Pellissier in 1991

  ****************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button