ELM stel 19 navorsers aan teen R15 miljoen per jaar
Die ANC-regering in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit gaan vanjaar verder druk op belastingbetalers plaas deur die aanstelling van 19 senior navorsers en ondersteunende personeel teen ʼn bedrag van R15,1 miljoen per jaar.
“Met dié stap het die ANC-regering weer bewys hy is nie besorg oor dienslewering in Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) nie. Die stadsraad kon met die geld 66 algemene werkers per jaar aangestel het,” sê rdl. Gerda Senekal (VF Plus-raadslid ELM).
Die VF Plus het tydens ʼn algemene raadsvergadering teen die aanstellings gestem en ook die aanstelling vir ʼn navorser vir die hoofsweep vir die ANC van die hand gewys.
Die nuwe personeellede sal verdeel word indien navorsers aangestel word vir die onderskeie politieke hoofswepe en ondersteuningspersoneel vir die kantoor van burgermeesterskomiteelede.
Met hierdie aanstelling sal die salarisbegroting vir die finansiële jaar vanaf R1,2 miljard na R1,3 miljard styg. Die totale finansiële begroting is R6,8 miljard waarvan 21% aan salarisse bestee word.
Die VF Plus het dit duidelik gestel dat die inwoners van Emfuleni benadeel word in ʼn munisipaliteit wat reeds finansieel onder geweldige druk verkeer.
Die munisipaliteit se onvermoë om grootmaat krag- en watervoorsieners asook ander diensverskaffers te betaal, is ʼn maandelikse tendens.
“Hierdie vorm ʼn bose kringloop waar die munisipaliteit ontoereikende dienste lewer en gedwing word om tariewe te verhoog wat tot minder ontwikkeling en groei van die privaatsektor lei. Dit lei eerder tot ‘n verarmde bevolking en werkloosheid wat die inkomstestroom van die munisipaliteit verder verminder,” sê rdl. Senekal.
