Local newsNewsNews

Emfuleni verloor 56% van sy water maar spandeer meer as R65 miljoen aan oortydbetaling

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit verloor glo omtrent 56% van sy water weens waterlekke, onwettige waternetwerk-konneksies, foutiewe meterlesings, inkorrekte meterlesings en verouderde infrastruktuur, maar hou aan om oortyd aan werkgewers van Metsi a Lekoa te betaal.

VEREENIGING. – Volgens Kingsol Chabalala, lid van die provinsiale wetgewer en die DA se hoof van die Emfuleni Noord-kiesafdeling, dra inwoners van Emfuleni die koste van die verhoging in tariewe vir water en lae waterdruk weens die munisipaliteit se versuim om betyds aandag te gee aan gerapporteerde waterlekke en om sy skuld aan Rand Water te betaal terwyl werknemers buitensporige oortyd betaal word.


Die inligting oor hoeveel oortyd werkers van die munisipaliteit betaal word is deur die Gautengse LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake, Lebogang Maile, onthul in antwoord op skriftelike vrae wat by die Gautengse Provinsiale Wetgewer (GPL) ingedien is.


Volgens Maile het Emfuleni R65 832 014.47 aan oortyd vir Metsi a Lekoa se werkers in die laaste vier finansiële jare betaal.


Dit sluit in:
R10 601 586.76 vir die 2021/2022 finansiële jaar
R17 637 412.99 vir die 2020/2021 finansiële jaar
R19 633 849.46 vir die 2019/2020 finansiële jaar
R17 959 165.26 vit die 2018/2019 finansiële jaar

“Dit is onaanvaarbaar aangesien inwoners van Emfuleni kla oor die munisipaliteit se versuim om aandag te gee aan gerapporteerde waterlekke, gebarste waterpype en rioolverstoppings. Dit het gelei tot rioolstortings oor baie strate in Emfuleni wat ‘n gesondheidsgevaar is.

“Hierdie geld wat op Metsi a Lekoa-werknemers vermors word, kan gebruik word om die munisipaliteit se verouderde waterpype te vervang en reg te maak om te verseker dat dit waterverliese verminder,” meen Chabalala.


Volgens Chabalala gaan die DA sy raadslede in Emfuleni betrek om die kwessie van waterverliese ter tafel te lê en om geld te besnoei wat aan werknemers se oortyd bestee word vir bespreking in die raad.


“Dit sal help om maatreëls in te stel om die vermorsing van belastingbetalers se geld hok te slaan en te verseker dat die bietjie geld wat Emfuleni het verstandig bestee word tot voordeel van sy inwoners.


“Ons sal voortgaan om druk op die Emfuleni-burgemeester te plaas om die herstel en instandhouding van waterinfrastruktuur te prioritiseer en om inwoners op te voed oor waterbesparing,” sê hy.


Chabalala sê water is ‘n kosbare skaars natuurlike hulpbron wat bewaar moet word en om te verseker dat alle inwoners toegang tot ononderbroke watertoevoer het, moet Emfuleni doeltreffende waterbeheermaatreëls tref en die verouderende waterinfrastruktuur regmaak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button