Home & GardenHomesLifestyleLocal LifestyleLocal newsNews

B&R Hardware sit wyle Piet Rossouw se drome vir die besigheid voort

Hier kry jy alles wat jy vir huis en tuin benodig. Besoek hulle gerus op die hoek van Generaal Hertzog- en Blackwoodstraat, Drie Riviere, of skakel hulle by (016) 423 1246/7 vir meer inligting

 

VEREENIGING. – Vir baie huiseienaars en selfdoeners is B&R Hardware in Drie Riviere al langer as 16 jaar ‘n vertroude naam – eers bekend as Gert Oosthuizen Hardware, later Pietria en uiteindelik sedert 2006 as B&R Hardware onder leiding van Piet en Martie Rossouw. By dié eenstop-winkel kan jy vinnig en maklik alles van sement en hout tot gas, verf, elektriese benodigdhede, loodgieterstoerusting en algemene ysterware koop.

Op 15 Julie 2020, te midde van die Covid-inperking, het ‘n nuwe hoofstuk in B&R Hardware se bestaan aangebreek toe die onderneming na ‘n nuwe, groter perseel op die hoek van Generaal Hertzog- en Blackwoodstraat, Drie Riviere, verhuis het. Dit is direk langs die bekende Fourway Centre, een van Drie Riviere se spoggerige sakepersele.

Dié skuif was ‘n jarelange droom van eienaar Piet Rossouw, wat ‘n elektriese kontrakteur was voordat hy ten volle op die ysterwarebedryf begin toespits het. Tydens die verhuising vanaf Basheestraat na die nuwe perseel het Piet aan Vaalweekblad gesê dit het deeglike beplanning en harde werk van hom, sy familie en personeel geverg om die “Groot Trek” te midde van die inperking aan te pak. Hy het egter baie vertroue gehad dat die Vaaldriehoekse ekonomie mettertyd sou herstel, en daarby het hy geweet hy en sy familie kon reken op die lojaliteit van hul jarelange kliënte, verskaffers en kontrakteurs.

Piet was baie trots op hul werksaamhede in die nuwe gebou en dit was nie lank nie of B&R het verder uitgebrei om ook stene, sand en klip te begin verkoop.

Die hartseer nuus is dat Piet verlede jaar, op 23 Julie 2021, skielik oorlede is – skaars ‘n jaar nadat hulle die nuwe perseel betrek het. Die spore wat hy hier agtergelaat het, lê egter diep, en die besigheid se fondasie is stewig.

Piet se onverwagse dood was verpletterend vir sy vrou Martie en hul dogter, Adéle Brits, wat in 2009 by die onderneming aangesluit het. Hoewel hul harte steeds stukkend is, het hulle besluit om die onderneming voort te sit ter ere aan Piet se nagedagtenis en om sy droom lewend te hou.

“Ons het baie groot skoene om vol te staan, soos almal wat Piet geken het, sal weet. Ons vertrou dat ons sy nalatenskap sal kan voortsit met die deurlopende ondersteuning van ons lojale kliënte,” sê Martie.

Foto: Wyle mnr. Piet Rossouw, wat op 23 Julie 2021 oorlede is.

Buiten die normale dienste en artikels wat in ‘n ysterwarewinkel aangebied word, kan B&R hul kliënte ook bystaan met ‘n wye verskeidenheid tuinbenodigdhede sowel as besproeiing. Hulle het vriendelike, hulpvaardige assistente, meeste met baie jare se lojale diens en ondervinding.

Net soos wyle Piet, het Martie en Adéle ook ‘n voorliefde vir huis- en tuinverfraaiing, mooimaak en regmaak. Hulle kombineer dié passie met nog ‘n eienskap waarvoor Piet so goed onthou sal word: Uitstekende kliëntediens. Hoewel dit sekerlik moeilik vir enige onafhanklike ysterwarewinkel is om met die groot kettinggroepe mee te ding, lê B&R Hardware se voordeel juis in sy meer intieme, kleiner aard en die persoonlike diens wat hulle aanbied. B&R Hardware is in werklikheid ‘n ‘walk-in-walk-out’ onderneming waar jy vinnig geholpe raak en selfs net een skroefie kan koop as dit al is wat jy benodig.

Adéle nooi almal om bietjie tyd in die winkel te kom deurbring, deur te stap en te sien wat hulle alles aanbied. “My pa het altyd gesê ons is ‘n familiewinkel en dit is hoe ons wil hê mense moet voel wanneer hulle ons besoek,” sê sy.

B&R Hardware het hul eie aparte ingang en parkeerplek aangesien hulle onafhanklik van Fourways funksioneer. Kom besoek hulle gerus op die hoek van Generaal Hertzog- en Blackwoodstraat, Drie Riviere, of skakel hulle by (016) 423 1246/7 vir meer inligting oor die beskikbare artikels en dienste. Die onderneming is sewe dae per week oop en kan ook gevolg word op Facebook.

 

Foto’s bo en onder: B&R Hardware se nuwe gebou, direk langs Fourway Sentrum in Drie Riviere.

 

 

Martie Rossouw en Adéle Brits leef steeds Piet se drome uit by B&R Hardware in Drie Riviere.

 

B&R Hardware se vorige gebou in Basheestraat, Vereeniging.

****************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button