BikesLifestyleLocal newsMotoringNews

‘Biker’-familie neem roerend afskeid van gestremde sportman

Barend is paraplegies gelaat nadat sy rug jare gelede in 'n tragiese werksongeluk gebreek is

 

VANDERBIJLPARK. – Motorfietsryers het op Saterdag, 11 Junie van heinde en ver gekom om hul laaste eer aan ‘n bekende sportman en “biker-broer” van die Vaaldriehoek, wyle mnr. Barend de Graaf (61), te bewys. Barend, ‘n parapleeg wat die afgelope maande bedlêend was, het op 29 Mei na ‘n hartaanval beswyk.

Dié innemende Vanderbijlparker met sy warm persoonlikheid en hartlike glimlag was die afgelope 15 jaar ‘n lid van die Centurions-motorfietsklub en het dwarsdeur sy lewe ‘n groot liefde vir mense en motorfietse behou.

Hy is op 23 Mei 1961 in Vanderbijlpark gebore en het aan die Laerskool Hendrik van der Bijl en HTS Carel de Wet skoolgegaan voordat hy met sy vakleerlingskap by Dorbyl (destyds Vecor) begin het. Hy is paraplegies gelaat nadat sy rug in dié tyd in ‘n tragiese werksongeluk gebreek is. Na sy rehabilitasie het hy steeds vir 18 jaar by Vecor gewerk. Hy het daarna ‘n pos by die destydse Iscor aanvaar en was daar in diens totdat hy in 2019 medies ongeskik verklaar is weens motorneuronsiekte.

Barend, wat ‘n lid van die Vaal Atletiekklub was, se rolstoel-sportloopbaan het in 1986 begin. Hy het aan verskeie Suid-Afrikaanse kampioenskappe in baan- en velditems, gewigoptel en marathons deelgeneem en goue medaljes in al sy items verower. Hy is by meer as een geleentheid deur Vaalweekblad as Sport-ster van die maand aangewys.

Hy word ook onthou as die eerste parapleeg wat aan “able body” marathons en fietsry in die Vaaldriehoek deelgeneem het. Hy het onder andere ‘n 1 000 km- en 160 km-wedloop sowel as ‘n 24 uur-marathon (almal in goud) met sy rolstoel voltooi. Hy het ook met sy handfiets aan ‘n Argus-fietstoer deelgeneem en derde in sy afdeling geëindig.

“Barend was sy hele lewe lank lief vir spoed en motorfietse,” sê sy vrou, Joan. “In 2012 het hy vir hom ‘n trike in Port Elizabeth laat bou, waarmee hy gereeld  by motorfiets-rally’s en day jolls deelgeneem en dikwels die driewielafdeling gewen het,” sê sy.

Sy en Barend het vanaf 2012 gereeld saam-saam motorfietstoere na byvoorbeeld Botswana, Natal en die Kaapprovinsie aangepak en motorfietsbyeenkomste dwarsdeur die land bygewoon. Hul dogter Juanita, seun Tjaard en kleindogter Kayla is ook almal groot “bike-fanatici” wat Barend se liefde vir motorfietse met hom gedeel het. Hy het tot in 2020, net voor die inperking, nog gereeld sy driewiel gery maar was die laaste paar maande bedlêend.

Barend het op sy verjaardag op 23 Mei vanjaar ‘n hartaanval gehad en is in Emfuleni Mediclinic se intensiewe sorgeenheid opgeneem, waar hy op 29 Mei oorlede is. Buiten Joan word hy oorleef deur hul seuns André en Tjaard Olwagen, dogter Juanita Wessels, drie kleinseuns en twee kleindogters.

‘n Hartroerende roudiens wat deur familie, klublede en vriende bygewoon is, is verlede Saterdag by die Centurions-klubhuis gehou.

Wyle Barend de Graaf.

 

Argieffoto: Wyle Barend de Graaf saam met sy vrou Joan op sy motorfiets.

***********************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button