Sasolburg-man doen brandwonde oor 50% van sy lyf op nadat gas geyser ontplof
'n Gas geyser het die naweek glo in sy gesig ontplof.
SASOLBURG. – “Wat met Gawie gebeur het is nog baie rou vir ons”.
Dit was die woorde van Elize Trollip, die vrou van die 44-jarige Sasolburger Gawie Trollip, wat op Sondag per helikopter na Netcare se Unie-hospitaal in Alberton vervoer is nadat hy beseer is in ’n ontploffing by sy huis.
Vaalweekblad verstaan Trollip is ernstig beseer toe ’n gas geyser Sondag by die Trollips se woning in Sasolburg ontplof het.
Stephen Venter van Bring Hoop Vaaldriehoek skryf in ’n plasing op Facebook:
“Op Sondag het Gawie Trollip baie ernstig seergekry toe ‘n ongeluk by sy woning plaasgevind het waar ‘n gas geyser in sy gesig ontplof het.
“Gawie het op 50% van sy liggaam baie ernstige brandwonde opgedoen en is tans in ICU in Alberton.
“Vir die mense wat hom nie ken nie, hy is gereeld betrokke by projekte saam met Bring Hoop Vaaldriehoek en doen geweldig baie vir ander.
Gawie se vrou, Elize, sê daar is in hierdie stadium nog baie vrae rondom die voorval.
“Daar is baie vrae rondom wat gebeur het. Feite kan ons (in hierdie stadium) nie gee oor wat presies gebeur het nie,” het sy Dinsdag (27 September 2022) laat weet.
Elize het aan Vaalweekblad se verslaggewer gesê die familie is nog nie gereed om oor die voorval te praat nie aangesien alles in hierdie stadium nog “baie rou” is.
“Ek gaan vra om ons te respekteer tot my man op die been en uit die ICU in Alberton is,” het sy Dinsdag in ’n kort boodskap laat weet.
Vaalweekblad kan later meer breedvoerig berig wanneer die familie kans sien om meer inligting rondom die voorval te deel.

