Behulpsame Petra benodig nou self bystand in tyd van groot pyn
Skenkings kan ook direk inbetaal word by FNB, rekeningnaam: We Care For You, rekeningnommer: 62870493055, takkode: 250945.
VANDERBIJLPARK. – Baie Vaaldriehoekse inwoners ken Petra van Zyl van die hulporganisasie We Care For You (WCFU) as ‘n vrou met ‘n sagte hart en ‘n oop hand. As stigter van dié geregistreerde organisasie het sy deur die jare al honderde hulpbehoewendes van noodsaaklike lewensmiddele voorsien, al kry sy self net ‘n SASSA-pensioen. Maar nou moet Petra eers haar eie gesondheidsprobleme oorkom voordat sy haar goeie werk kan voortsit.
Sy sukkel reeds jare met ‘n yslike naelbreuk waarvoor sy in 1976, 1980 en 1989 geopereer is. Dit was ongelukkig nie suksesvol nie en veroorsaak groot ongerief soos wat haar ingewande opvallend in die omgewing van haar naeltjie uitstulp. Sy het ook las van galstene wat ondraaglike pyn, chroniese naarheid en koors veroorsaak.
“Ek het geweldig pyn en kan amper nie meer beweeg nie. Die galstene vergiftig my hele liggaam maar die dokter by die staatshospitaal wil dit nie met ‘n konvensionele operasie verwyder nie omdat ek weens my hoë bloeddruk en diabetes ‘n hoërisiko pasiënt is,” sê Petra. Al uitweg is dat sy self die sowat R200 000 teen Februarie 2023 moet insamel om ‘n private spesialis te besoek en ‘n laser-operasie by ‘n privaathospitaal te kan bekostig. Vir dié doel is ‘n BackaBuddy-rekening geopen, maar bydraes kom tot dusver net drupsgewys in.
Petra en haar man Gert, wat aan beginfase-Alzheimers ly, woon al 26 jaar in Goodyearstraat, Vanderbijlpark, waar hy haar na die beste van sy vermoë versorg. Daar is egter baie uitdagings. Hulle het nie ‘n stort nie en dit is nou feitlik onmoontlik vir Petra om in en uit die bad te kom. Hoewel sy ‘n rolstoel het, pas dit nie in hul motor nie, wat haar beweeglikheid buite hul huis verder bemoeilik.
In die verlede het Petra se diensorganisasie hulpbehoewendes dwarsdeur die Vaaldriehoek bygestaan, maar deesdae fokus sy net op haar onmiddellike omgewing en die verarmde mense van die CW5- en CW6-gebiede in Vanderbijlpark. Sy het ‘n besonder sagte plekkie vir kinders en bied al jare lank gedurende Desembermaande ‘n Kersboom vir kleingoed van die omgewing aan.
“Hier staan reeds vyf wheelie bins vol klere, ‘n drom vol skoene en nog sakke klere wat ons op 10 Desember tydens vanjaar se Kersboom onder minder gegoede kinders gaan uitdeel, as ek geseënd gaan wees om dan nog te leef,” sê Petra.
Nog skenkings van nie-bederfbare kos, lekkergoed en komberse sal ook baie waardeer word. Enigiemand wat betrokke wil raak, kan Petra per WhatsApp kontak by 062 751 7670.
Besoek https://www.backabuddy.co.za/petra-van-zyl om ‘n bydrae vir haar operasie te maak. Skenkings kan ook direk inbetaal word by FNB, rekeningnaam: We Care For You, rekeningnommer: 62870493055, takkode: 250945.


