Local newsNews

1998: Gewilde sportvrou sterf in Mosambiek na haai-aanval

Hulle was nog so 'n kilometer van die strand af toe Wilma ophou swem het om na hul satelliettoerusting te kyk en seker te maak van hul posisie. Die haai van by die drie meter het op daardie oomblik skielik langs hulle verskyn.

Vereeniging is vanjaar 130 jaar oud. Vaalweekblad kyk vanjaar terug na groot nuusgebeure wat ons inwoners deur die afgelope dekades diep geraak het. Hierdie was een daarvan:

Oud-skoolmaats en onderwyspersoneel van die Hoërskool Vereeniging het in April 1998 met skok verneem dat een van hul gewilde oudleerlinge, die slim en sportiewe Wilma (Uys) van Molendorff, gesterf het nadat sy aan die Mosambiekse kus deur ‘n haai aangeval is.
Wilma, toe 35, was van jongs af lief vir die natuur, die buitelewe en watersport en het op ‘n jong ouderdom Springbokkleure in onderwaterhokkie verwerf. Sy was ook ‘n uitstekende duiker.

Na haar skool- en universiteitsopleiding het sy haar eie apteek in Germiston bedryf maar steeds gereeld tyd gemaak om in die natuur te ontspan. Nadat sy haar man, DeLange von Molendorff, omstreeks 1995 in ‘n motorongeluk veroor het, het sy mettertyd ‘n verhouding met Johan (Pof) Preller, ‘n ouditeur van Potchefstroom, aangeknoop. Die paartjie het graag saam op buiteluguitstappies gegaan en was juis in Mosambiek vir ‘n spieshengelvakansie toe die tragedie plaasvind.

Pof het agterna vertel dat hy en Wilma die Sondag van 26 April 1998 met ‘n rubberbootjie op see uitgegaan het en sowat 60 kg vis gevang het. Hulle was reeds op pad terug en was so 3 km van die strand af toe die enjin gaan staan het. Albei was goeie swemmers en hulle het besluit om strand toe te swem en die bootjie waarin hul vangs was, te tou.

Hulle was nog so ‘n kilometer van die strand af toe Wilma ophou swem het om na hul satelliettoerusting te kyk en seker te maak van hul posisie. Die haai van by die drie meter het op daardie oomblik skielik langs hulle verskyn. Hy het Wilma dadelik begin aanval en grusame bytwonde aan haar bolyf, maag en linkerarm veroorsaak.

Haar regterhand is ook gebreek voordat Pof dit kon regkry om die reuse-vis op die neus te slaan en te verwilder. Pof kon daarin slaag om homself en Wilma in hul bootjie op te trek, waar sy tien minute later aan haar beserings gesterf het – enkele dae voor haar 36ste verjaardag.
Pof het die oorblywende ent met ‘n paddaskoen strand toe geroei waar hy die bootjie en Wilma se liggaam by die hoogwatermerk op die strand gelaat het.

Die strand was verlate en hy moes 10 km oor sand en klippe hardloop voordat hy omstreeks 21:30 die aand doodmoeg by die oord waar hulle in Biléne (vroeër bekend as San Martino) tuisgegaan het, aangekom het om hulp te ontbied. Die oord se eienaar, Eddie Ruiz, het dadelik ‘n reddingspan uitgestuur om Wilma se liggaam en die bootjie te gaan haal.

Die verpletterende nuus het Wilma se ouers, die bekende Vereenigingse tandarts dr. Fred Uys en sy vrou Elmien, sowat vyf ure later bereik. In plaas daarvan dat hulle op 29 April daardie jaar hul dogter se 36ste verjaardag kon vier, was dit die dag waarop sy uit hul kerk in Arconpark begrawe is. Vaalweekblad verneem dat haar ouers ‘n paar jaar later na Mahikeng verhuis het om daar te gaan aftree. Buiten haar ouers het Wilma ook twee susters en ‘n broer agtergelaat.

 

Wyle Wilma Uys van Molendorff, ‘n oudleerling van die Hoërskool Vereeniging, wat in 1998 na ‘n haai-aanval gesterf het.
Die strand by Bilene in Mosambiek – die area waar Wilma van Molendorff deur ‘n haai aangeval is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button