Mev. Vaal stap weg met Mrs Africa-kroon!
Julien du Plessis van Vereeniging het onder andere die titel as Mrs Africa, Mrs Congeniality en Media Queen ontvang en is ook met 'n toekenning vereer vir haar deeglike uitvoering van haar take.
VEREENIGING. – Mev. Julien du Plessis, houer van vanjaar se Mev. Vaal-titel en beïnvloeder wat weeskinders en jong meisies se lewensomstandighede deur haar projekte verbeter, is pas aangewys as African Queen Foundation se Mrs Africa 2023.
Die finale beoordeling van die spogprojek het op 19 November by die Royal Hotel in Durban begin en is die volgende dag op ‘n MSC-bootreis na Mosambiek voortgesit. Dit was egter nie ‘n luilekker vakansie vir die finaliste nie. Elkeen moes tydens hul reis in-diepte voorleggings aanbied, verduidelik wat hul portegeuljes behels het en wat hul doelwitte en suksesse as finaliste was.
Op Woensdag, 23 November, het die boot by Pomene in Mosambiek anker gegooi – en dit was die eintlike motief agter alles: “Ons het namens die African Queen Foundation gegaan en ‘n uitreik gedoen vir die gemeenskap van Pomene. Ons het onder andere klere, speelgoed, skoene, toiletware en skryfbehoeftes vir die kinders se skoolwerk uitgedeel. Herbruikbare sanitere doekies, bekend as Dignity Dreams-pakkies, is ook aan jong meisies uitgedeel. Al die artikels is deur die titelhouers en medewerkers van Pageants SA en Africa Pageants ingesamel om onder behoeftiges te versprei. Die uitreik is vyf jaar gelede deur Carolyn Baldwin Botha, die uitvoerende bestuurshoof, begin om gemeenskappe te ondersteun.
Die groot dag het Donderdag, 24 November aangebreek, toe die finale beoordeling van African Queen plaasgevind het. Julien het onder andere die titel as Mrs Africa, Mrs Congeniality en Media Queen ontvang en is ook met ‘n toekenning vereer vir haar deeglike uitvoering van haar take.
“Liefdadigheid is waaroor die platform van Pageants SA en Africa Pageants gaan: Om ‘n verskil en impak te maak, nie net in jou eie gemeenskap nie maar waar ookal dit is waar die Here jou wil laat gaan,” sê Julien. Dié Vereenigingse sakevrou is die konsessiehouer van Ascot Diet Clinic in Drie Riviere en finansiële bestuurder van haar man se ingenieursmaatskappy.
Sy sê haar lewe is verryk deur die avontuur om aan die wedstryd te kon deelneem en sy het baie mense om te bedank, maar bowenal bedank sy die Hemelse Vader wat alles moontlik gemaak het. Sy sonder voorts haar man en twee seuns uit vir hul ondersteuning: “Dankie aan my man Frans, wat my deur dik en dun bystaan. Hy is my beste vriend en dis ‘n voorreg om sy vrou te kan wees. Dankie aan my twee seuns Francois en Lian, dat hulle aan my glo en altyd saam met my hard werk. Dankie aan my ouers wat ook altyd daar is vir my en vir die waardes wat hulle my geleer het,” sê sy.

