‘Skoon oudit beteken min as inwoners dit nie op grondvlak kan sien nie’ – Midvaal Hoofsweep
Midvaal handhaaf 'n 20 dae gemiddeld om krediteure te betaal, wat beteken dat geen rekeninge agter is nie en geen dienste afgesny gaan word of bates op beslag geneem gaan word nie. Eskom gee ook aan Midvaal 5% afslag op sy rekening omdat hulle betyds betaal.

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit
Die afgelope maand het Midvaal se huidige raad ‘n jaar in bewind gevier. As deel van ‘n evaluasie van die doen en late asook die sukses van hierdie span het die Uitvoerende Burgemeester Raadsheer Peter Teixeira, gaste en die media toegespreek by ‘n funkise genaamd 365 in Midvaal. Ek gee graag ‘n paar van die hoogtepunte weer van die Burgemeester se toespraak.
Die hoofnuus is dat Midvaal sopas hul negende skoon oudit ontvang het. So ongelooflik en noemenswaardig as wat dit is voeg Rdh. Teixeira by dat dit nie veel beteken as die inwoners dit nie op die grond kan sien, voel en ervaar nie. So die Mees finansieel volhoubaarste munisipaliteit in die land-toekening (RatingsAfika, 2022) is wonderlik maar beteken vir die inwoners nie veel as hulle nie op die paaie kan ry nie. Midvaal se fokus was dus in 2022 om infrastruktuur te verbeter. Dit het begin met ‘n kapitale begroting van R186 miljoen waarvan ‘n ongelooflike persentasie van SLEGS 25% aan personeel bestee word. Begrotings word ten volle gespandeer en toekennings soos die MIG (Municiapl Infrastructure Grant) en WSIG (Water Service Infrastructure Grant) wat, vanaf Provinsie, slegs vir voorgelegde projekte in ontwikkelende gebiede toegeken word, staan op 99.56% en 99.97% spandeer statisitieke. Dit beteken Midvaal kry talle toelae (selfs addisioneel wanneer ander munisipaliteite nie hulle begrotings spandeer nie) en spandeer dit reg en volledig in die gebiede waarvoor dit beoog is. So wanneer ons hoor daar is ‘n sekere bedrag in ‘n sekere informele woonarea gebruik, is die kans goed dat dit hierdie spesiale begrotings is. Midvaal doen aansoek hiervoor en dit word nie uit die sentrale belastingbetalerspot verhaal nie maar maak tog ‘n reuse-verskil aan die lewens van soveel mense in onderontwikkelde gebiede in Midvaal.
Midvaal handhaaf ‘n 20 dae gemiddeld om krediteure te betaal, wat beteken dat geen rekeninge agter is nie en geen dienste afgesny gaan word of bates op beslag geneem gaan word nie. Eskom gee ook aan Midvaal 5% afslag op sy rekening omdat hulle betyds betaal.
Verder het Midvaal ‘n 100% sukses in die aanspreek van onwettige grondbesettings en hoop om in die toekoms self HOP-huise te kan bou om die agterstand van die regering te probeer inhaal en ontwikkeling reg te laat geskied. Drie nuwe vullistrokke is aangekoop om die hardwerkende bestaande trokke by te staan. Nog twee trokke en twee TLBs word beplan, wat net ‘n klein deeltjie is van die meer as 14 voertuie wat by die vloot bygevoeg is in 2022. Sportfasiliteite word gebou en opgeknap, begraafplase word onderhou, verbeter en uitgebrei, biblioteke is opgegradeer met meer as R2.3 miljoen en gedigitaliseer. Midvaal stel binnekort ‘n “Chatbot” sisteem in om informasie en klagtes te vergemaklik en werk onverpoosd om die IT-stelsel te verbeter.
Die nuwe sesde departement wat Midvaal gestig het in 2022 maak ‘n reuse-verskil in dienslewering. Publieke Veiligheid en Paaie (Public Safety & Roads) het meer as 827 brandgevalle behartig die jaar en ondergaan deurgans nuwe opleiding in verskeie vaardighede. By die Toughest firefighter challenge kompetisie het ons spanne Eerste en Tweede plek ingepalm. Die departement het ook 749 verkeersreaksies gehad en amper 12 000 boetes uitgereik, 34 arrestasies gemaak en 39 voertuie is geskut. 88 voertuie is teruggekry met hulle CCTV-moniteringssiteem, wat tans uitgebrei word. In die reënseisoen is reeds 25 353 m2 slaggate herstel, 508km se grondpaaie geskraap, 684 interseksies en 41 km middellyne geverf. Hierdie spanne is elke dag die hele dag, selfs oor naweke aan diens en die foto’s op sosiale media getuig daarvan dat hulle alles in hul vermoë doen om ons paaie begaanbaar te hou.
1 800 nuwe huise in Midvaal het elektrisiteit gekry. Teen die einde van Desember sal nog 453 huise elektrisiteit hê in areas waar daar tevore geen elektrisiteit verskaf was nie. In Sicelo word die informele woonrarea ook ge-elektrifiseer deur voorafbetaalde meters. Met die nuwe meters en tegnologie wat regdeur Midvaal geïnstalleer word vir elektrisiteit en water, kan daar nou meer noukeurig opsporing gedoen word van dienste-diefstal en kan onwettige konneksies uitgeroei word. Dit sal die huidige en gereelde klopjagte vergemaklik. 1 400m se nuwe kragkabels word regoor Midvaal ingesit, nuwe substasies word geïnstalleer en etlike kilometers se ou waterpype word vervang. Due nuwe waterlyn na Risiville is onlangs geopen wat beteken dat die inwoners daar nie meer op Emfuleni (vorige diensverskaffer) hoef staat te maak om herstelwerk te doen wanneer gereelde lekkasies die infrastruktuur lamlê nie.
Rdh. Teixeira noem pertinent dat goeie diens en skoon ouditverslae nie die munisipaliteit selfvoldaan en lui moet maak nie. Dit is Midvaal se plig om die meer as 120 000 inwoners van steeds beter regeerde dienste te verskaf.
Tussen al die rolspelers deur sluit die Speaker van Midvaal af deur ‘n ellelange lys van Midvaal se mannekrag te noem. Die klerke, skoonmakers, elektrisiëns, assistente, ambagspersone, bestuur, ens. Maar die belangrikste belanghebbendes in die verhouding is ons inwoners, die wonderlike mense van Midvaal vir wie ons al hierdie werk doen.
Hiermee wens ek u ‘n Geseënde Feesseisoen asook veilige en verdraagsame rusperiode toe.
Midvaal groete, Phil.
#MinderKritiseerMeerReflekteer
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App
