Midvaal Hospitaal: Van krag-tot-krag om in groeiende behoeftes te voorsien
Midvaal Privaat Hospitaal is in 2014 vir die eerste keer deur Discovery aangewys as een van die top 20 hospitale in die land
INHOUD VERSKAF DEUR MIDVAAL PRIVATE HOSPITAAL
Midvaal Privaat Hospitaal in Nile-rylaan, Drie Riviere, het sy ontstaan gehad toe ‘n groep dokters en sakemanne in die 1990s byeengekom het om oplossings vir die groeiende behoefte aan private gesondheidsorg in die Vaaldriehoek te vind. In daardie stadium was Medicity (vandag se Mediclinic Vereeniging) en Medicross die enigste private gesondheidsorgsentrums in Vereeniging.
Die prospektus van die hospitaal wat destyds aan voornemende aandeelhouers voorgehou is, het voorsiening gemaak vir 56 beddens en drie operasieteaters. Aandele is in 1996 verkoop teen R1 elk. Die bouperiode was van Maart tot November 1996 en na die inspeksie van die Departement van Gesondheid op 13 Desember 1996 kon die deure van Midvaal Privaat Hospitaal amptelik open.
Op 16 Desember 1996 het ons die eerste teatergeval gehad. Dit was ‘n gevangene van Groenpunt-gevangenis op wie ‘n rugoperasie uitgevoer is. In 2002 is verdere aanbouings aan die hospitaal voltooi en ons het opgradeer van 56 na 60 beddens, met ‘n addisionele 24 uur ongevalle-eenheid. Verder word die eerste hartkateterisasie-laboratorium in die Vaaldriehoek in Midvaal Hospitaal geopen.
In 2003 het die hospitaal verder uitgebrei met vier teaters en ‘n totaal van 92 beddens, wat ‘n 10-bed dageenheid insluit, ‘n splinternuwe ongevalle eenheid asook spreekkamergeriewe vir addisionele dokters.
In 2006 het ons goedkeuring gekry vir twee neonatale hoësorgbeddens wat ons getal beddens opgestoot het na 94. Dit was ook in 2006 wat die nuwe administratiewe kantore geopen is. In 2009 word River Gables naasliggend aan Midvaal Hospitaal aangekoop en omskep in verhuurbare kantoorruimtes, spreekkamers, ‘n dialise-eenheid asook ‘n patologielaboratorium. Die ontvangsarea is na die ingang van die hospitaal verskuif en die apteek is in 2010 vergroot. Dit het onveranderd gebly tot in 2016 toe ons verder aansoek gedoen het vir 30 bykomende beddens. In September 2016 open ons ‘n splinternuwe 10-bed pediatriese eenheid asook ‘n 20-bed mediese eenheid.
Midvaal Privaat Hospitaal is in 2014 vir die eerste keer deur Discovery aangewys as een van die top 20 hospitale in die land – ‘n titel wat ons vir drie agtereenvolgende jare met trots gedra het. Dié jaarlikse lys word ongelukkig nie meer openbaar vrygestel nie. In Desember 2018 keur die Departement van Gesondheid 10 addisionele mediese beddens en vier addisionele intensiewesorg-beddens goed. Die nuwe mediese saal is ampetlik in April 2019 ge-open.
In 2019 koop die hospital die “Medicross”-gebou op sy voorstoep aan, wat dokters en tandartse se kamers huisves. Met die uitbreiding het daar ‘n behoefte ontstaan aan nog intensiewesorg-beddens. In Julie 2021 open die nuwe Kardiotoraks Intensiewe eenheid met sewe beddens. Die hospitaal koop ook die Orwell Besigheidspark in 2021 en rig onder andere sessiekamers in om in die groeiende behoefte aan private mediese dienste in die Vaaldriehoek te voorsien.


