‘Biker’ erg beseer toe motor oor rooi lig ry
'n Ondersoek van sy motorfietshelm het agterna getoon dat Cornel op sy kop geval het toe hy die grond getref het
VEREENIGING. – ‘n Saak van roekelose bestuur word ondersoek teen ‘n motorbestuurder, wat oor ‘n rooi verkeerslig gery en ‘n botsing veroorsaak het waarin ‘n jong motorfietsryer, Cornel Greeff (26), ernstig beseer is.
Cornel, ‘n werknemer van Vereeniging Tyre en Tube, was die aand van 4 November omstreeks 22:50 op pad na sy woonstel toe die voorval plaasgevind het. Op videomateriaal wat deur Sekuriteit Sonder Grense se gemonteerde sekuriteitskameras geneem is, kan gesien word hoe Cornel die kruising tussen Rhodes- en Uniestraat binnegaan terwyl die verkeerslig groen was vir hom. Die volgende oomblik kom ‘n rooi voertuig skielik die kruising van Cornel se linkerkant af binne en ry voor hom in. In die volgende sekonde kan gesien word hoe hy bo-oor die voertuig geslinger word en in ‘n bondeltjie anderkant die kar bly lê.
Cornel se ma, mev. Annelie Hilarius en haar man, William, van Vaalview-hoewes, het die nuus die aand omstreeks 23:20 gekry toe iemand hulle van die toneel af gekontak het. “Ons weet nie wie ons gebel het nie maar ons is baie dankbaar teenoor die persoon. Ons is dadelik na die ongelukstoneel waar ER24 reeds pynmedikasie toegedien het. Cornel was baie deurmekaar nadat hy ‘n rukkie bewusteloos was. Buiten ‘n oop femurfraktuur het sy regternier seergekry en sy hele lyf was vol blou kneusmerke. ER24 het uistekende hulp op die toneel verleen en hom na die provinsiale hospitaal vervoer,” sê Annelie.
Groot frustrasie het egter gevolg toe Cornel, wat nie ‘n mediese fonds het nie, byna ‘n maand in die Sebokeng-Hospitaal op ‘n operasie moes wag om verskeie breuke in sy been met penne en plate te heg. Daar was aanvanklik nie ‘n behandelingsplan nie en Cornel se ma het ‘n Back-a-buddy fonds oopgemaak in die hoop dat hy na ‘n privaathospitaal oorgeplaas kon word. Die operasie is egter uiteindelik op 1 Desember, vier weke na die ongeluk, by Sebokeng-Hospitaal uitgevoer en hy kon op 5 Desember ontslaan word. Cornel het tans “backslab”-gips van bo tot onder aan die beseerde been en moet oor twee weke teruggaan hospitaal toe om vas te stel of die eksterne wonde voldoende herstel het, waarna hy volle gips aan sy been sal kry. Wanneer die bene mettertyd aangegroei het en die gips verwyder kan word, sal hy na verwagting vir ‘n geruime tyd ‘n kniestut moet dra om weer te kan loop.
“Ons sê dankie dat die Here hom tot hier toe beskerm en bewaar het teen infeksie en skade. Ons glo dat hy ten volle sal genees al vat dit tyd,” sê Annelie. “Baie dankie aan elkeen wat saam met ons ingetree en gebid het. Ons waardeer elke oproep en besoek en ook die bydraes wat op sy Back-a-buddy gemaak is. Dit gaan help met Cornel se pynmedikasie en antibiotika. Maar meeste van alles wil ons die Here dank vir Sy genade wat vir Cornel en ons gedra het.”
‘n Ondersoek van sy motorfietshelm het agterna getoon dat hy op sy kop geval het toe hy die grond getref het en baie gelukkig was om nie veel erger beseer te wees nie. “Ons het ‘n wonderwerk aanskou,” sê sy dankbare ma. Die gesin is ook dankbaar teenoor Cornel se werkgewer, wat verlof aan hom toegestaan het terwyl hy herstel, en sy pos vir hom hou.
Kyk na die video (heel onder)



X-straal foto: Verskeie beenbreuke kan op Cornel se plate gesien word. Dit is ‘n maand na die ongeluk tydens ‘n operasie met skroewe en plate geheg.



Kyk na ‘n video van die ongeluk by hierdie skakel: https://www.youtube.com/watch?v=noyCz_x4EbE
Lees die Back-a-buddy berig hier: https://www.backabuddy.co.za/cornel-greeff-5459841734913211923
