Stoeikampioen op 51
Stoei het nie 'n ouderdomsbeperking nie. 'n Mens kan op enige ouderdom begin en met harde werk opgang maak. Lees meer.
SASOLBURG. – As stoei een maal in jou bloed is, los dit jou nie sommer weer nie. Vra maar vir Hannes Hattingh (51). Hy het kleintyd gestoei vir 10 jaar en baie goed gevaar.
Na skool het die lewe gebeur en tyd was daar nie meer vir sy gunstelingsport nie.
Dit was tot die gogga hom weer so paar jaar gelede gebyt het nadat hy ‘n stoeikampioenskap gaan kyk het.
Hy het besluit om weer te begin oefen en deel te neem. “Almal het gesê ek is mal om terug te gaan, maar ek het besluit om hulle te wys,” vertel hy.
Twee jaar gelede het hy by ‘n klub in Pretoria aangesluit en saam met die ander amateur meesters begin oefen.
Hannes het vinnig opgang gemaak en het die afgelope twee jaar aan die nasionale stoeikampioenskappe deelgeneem.
Hy het ook twee jaar in ‘n ry sy Sentraal Gauteng kleure gekry. Hannes se volgende doelwit is om nasionale kleure te verwerf en aan die wêreldkampioenskappe te gaan deelneem.
Hy oefen ten minste 45 minute per dag en sê op sy ouderdom stoei hy om fiks te bly.
Vir hom gaan dit nie net om te wen nie, maar ook oor die vriendskappe wat van die baan af gesluit word en die kameraadskap onder die stoeiers.
“Jy weet, niks is onmoontlik nie. Vir ander wil ek net sê, as ek dit kan doen, kan hulle dit ook doen.”
