Vlytige Ouma Sarie (93) is opgeroep vir hoër diens
"Sy het net van Vrydag af stil geword en minder geëet. Sy het vir ons gesê sy is moeg. Van Sondag af het sy niks geëet of gedrink nie, en Maandagoggend is sy net voor 07:00 heen."
Vaalweekblad het verlede maand berig oor een van Vanderbijlpark se kleurryke mense, mev. Sarie Maartens, wat op die ouderdom van 93 nog aktief in alles en almal om haar belanggestel het. Ons het vroeër die week die hartseer nuus gekry dat Ouma Sarie, soos sy onder haar geliefdes bekendgestaan het, op Maandag (19 Desember 2022) oorlede is.
Volgens haar kleinseun, mnr. Gerrie Castelyn, was sy verlede week nog by die dokter en alles het goed gelyk, behalwe vir ‘n swelling in haar voete en bene.
“Sy het net van Vrydag af stil geword en minder geëet. Sy het vir ons gesê sy is moeg… en vir my Moeder gesê sy is klaar en gaan dood… Van Sondag af het sy niks geëet of gedrink nie, en Maandagoggend is sy net voor 07:00 heen. Ons harte is stukkend,” sê Gerrie.
Ondanks die hartseer is haar familie dankbaar oor haar lang en geseënde lewe en gaan hulle haar ongetwyfeld met groot liefde en bewondering onthou.
Lees weer die berig oor Ouma Sarie en haar uitsonderlike dansrok wat verlede maand in Vaalweekblad verskyn het:
