Sasolburg-begraafplaas in haglike toestand
Inwoners kla oor die stand van Sasolburg se begraafplaas.
SASOLBURG. – Die begraafplaas is oorgroei met gras, onkruid en bossies.
Inwoners hou die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit verantwoordelik vir die toestand van die begraafplaas.
Piet Els, ‘n inwoner, skryf op Facebook: “Wat se skande is dit nie om Sasolburg-begrafplaas in dié toestand te kry nie. Mens kan swaarlik die grafte tussen die lang bosse sien. Hoe moet enige mens ‘n geliefde se graf opspoor met die begraafplaas wat in so ‘n gehawende toesstand is en grafte wat meestal nie eens nommers het nie.”
Vaalweekblad het navrae rondom die stand van die Sasolburg-begraafplaas aan die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gestuur.
Dr. Gino Alberts, kommunikasiebestuurder by die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit, sê werkers van die munisipaliteit se parke-afdeling is tans besig om gras in groen gordels (“green belts”) te sny en wanneer hulle met dié werk klaar is sal hulle begin om die gras by begraafplase – insluitend die begraafplaas in Zamdela – te sny.
“Ons het ‘n grassny-program ontwikkel en sny die gras volgens hierdie program,” sê Alberts.



