Nuwe Covid variant: SA gaan nie nou reisbeperkings instel nie
Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, het Dinsdag 10 Januarie 2023 tydens 'n media-inligtingsessie gesê Suid-Afrika gaan nie reisbeperkings instel soos sekere ander lande nie, maar het voorgestel dat Covid-toetsing en die regering se inentingsveldtog verskerp word.
Daar heers tans kommer nadat die XBB.1.5 subvariant – ‘n subvariant van die Omicron-variant, ook bekend as die Kraken-variant – in Suid-Afrika opgespoor is deur navorsers van Stellenbosh Uniersiteit.
Die pasiënt is glo al op 27 November 2022 getoets, terwyl die XBB.1.5. Eers op 7 Januarie geïdentifiseer is. Dit is tans nie bekend wie die geinfekteerde persoon is nie aangesien die monster tydens ‘n ewekansige steekproef bekom is.
Daar was in Desember 2022 ook ‘n toename in Covid-infeksies wêreldwyd, veral in China, waar daar ook ‘n toename in sterftes was.
Volgens Phaahla is daar tans geen aanduiding dat die nuwe Covid-subvariante meer dodelik is nie.
Phaahla sê Suid-Afrika het die Wêreldgesondheidsorganisasie geraadpleeg. Die organisasie het glo aanbeveel dat daar geen noodsaaklikheid is om reisbeperkings in te stel nie.
Phaahla het gesê toetsing moet opgeskerp word, sowel as die toetsing van rioolwater.
Die regering wil sy inentingsveldtog verskerp.
Volgens dr. Michelle Groome, hoof van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se eenheid vir openbare gesondheidswaarneming en reaksie, blyk dit of Suid-Afrikaners ‘n goeie immuniteit teen die Omicron-variant en subvariante het.

