Letter

Dané toon goeie herstel, maar nog geen beweging in bene

“Sy is ’n fighter. Sy is sterk, sy doen goed. Ek is baie trots op haar.”

VAALPARK – Dané Greyling (10), die leerder van JCS Independent School wat op 8 Oktober ernstig in ’n skoolvervoerongeluk beseer is, toon goeie tekens van herstel, maar het steeds geen beweging in haar onderlyf nie.

Haar pa, Dandrè Greyling, sê hoewel die gesin meer positief oor haar herstel is, bly die skade aan haar rugmurg ’n groot bekommernis.

“Ons het nog geen beweging in haar onderlyf gesien nie,” vertel hy.

Danelle en Dandre Greyling by hulle dogtertjie Dané,

Volgens Dandrè het verdere ondersoeke bevestig dat Dané se rugmurg nie afgesny is nie, maar wel baie ernstig beseer is.

“Die dokters is nie baie positief nie, maar ek glo met God is enigiets moontlik. Hy mag dit nie nou genees nie, maar dalk later.”

Dané het vandeesweek haar rugstut ontvang. Die mediese personeel beplan ook om haar nog hierdie week van suurstof af te haal. Hulle wil haar geleidelik uit die bed begin kry om haar liggaam sterker te maak.

Sy eet reeds klein hoeveelhede self, hoewel haar ouers haar steeds help voer wanneer hulle by haar is. Die voedingsbuis deur haar neus is nog nie verwyder nie.

Volgens Dandrè lyk dit of Dané bang is om te sluk, maar hy en haar ma moedig haar aan om meer te eet.

Indien sy sonder aanvullende suurstof kan klaarkom en die voedingsbuis verwyder kan word, kan sy moontlik na ’n Netcare-step-down-sentrum in Auckland Park oorgeplaas word vir verdere herstel en rehabilitasie.

Haar gemoedstoestand het intussen ook verbeter.

“Ons kan darem ’n bietjie grappies met haar maak.”

Dané ontvang ook sielkundige ondersteuning en kom volgens haar pa goed met haar nuwe sielkundige oor die weg.

Die gesin kon haar onlangs vir ’n rukkie buitentoe neem deur haar hospitaalbed na buite te skuif.

Sy het die afgelope naweek ook vir die eerste keer sedert die ongeluk haar boetie gesien. Volgens Dandrè was dit ’n emosionele ontmoeting omdat sy hom baie mis.

’n Maatjie het haar ook die naweek besoek.

Dandrè glo dié besoeke help om haar gemoed te verbeter en haar deur die moeilike herstelproses te dra.

“Sy is ’n fighter. Sy is sterk, sy doen goed. Ek is baie trots op haar.”

Dané is op 8 Oktober ernstig beseer in ‘n ongeluk op die R57 naby Vaalpark waarin drie leerders van JCS Independent School en hul bestuurder, Johan “Zet” Oosthuizen (60), oorlede is.

Hiernaas is die skakel vir haar skarebefondsing-veldtog:

https://www.backabuddy.co.za/campaign/10-year-old-survivor-dane-greyling

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button