Ballerinas se skitter 2022
Die OnPointe Ballet Studio het 'n uitstekende 2022 agter die rug en sien uit na 'n bedrywige 2023.
VANDERBIJLPARK. – Die OnPointe Ballet Studio, onder leiding van Riëtte Odendaal, in Vanderbijlpark het ‘n skitter 2022 gehad.
Met die uitsondering van twee, het al die jong dansers hul balleteksamens met onderskeiding geslaag.
Marlie Greeff (20), tans ‘n student in tale by die NWU, het haar Advance 1 eksamen (die matriek van ballet) met vlieënde vaandels geslaag, terwyl Cara Kapp (22) haar balletonderwys eksamens met ‘n uitstekende 86% geslaag het.

“Dit wil gedoen wees,” vertel Riëtte trots, “dit is ‘n uiters moeilike eksamen en die meeste balletonderwysers is verlig as hul slaag.”
Karla Landsberg (16) is verlede jaar gekies om deel van Mzansi Ballet se jeuggroep te wees.
Sy het, onder andere, deel uitgemaak van die uiters gewilde “The ABBA Show – a Cinderella Story” wat landswyd deur Mzansi Ballet opgevoer is.
Alhoewel dit ‘n ongelooflike ervaring was, was dit ook harde werk en moes sy haar tyd fyn sny tussen haar balletklasse, skoolwerk en die oefensessies saam met die groter ballet geselskap.
Twee jong ballerinas waarop die Vaaldriehoek met reg trots kan wees is Siphosithu Gwebo (16) en Nirie Dirks (15). Siphosithu was algeheel tweede en Nirie die beste in die hele Noord-Wes en Vaaldriehoek in die intermediêre ballet eksamens.
OnPointe se dansers het ook uitmuntend gevaar by die Virtuele Kunsfees en die Vaal Triangle Dance Festival.
Tydens die dansfees het hul ses hoog silwer, 14 goud, vyf hoog goud en sewe diplomas vir bo 90% verower.
Die dansskool sien uit na ‘n bedrywige 2023. Naas hul Moedersdagvertoning en die kunstefeeste beplan hul ook om weer ‘n groot vertoning in September te hou.
