Local newsNews

Verdriet toe Juffrou Monique onverwags sterf

Op 29 September 2017 het De Deur Primary School se aktiwiteite 'n dag lank tot stilstand gekom toe die personeel en leerlinge met 'n groetdiens hul laaste eer aan hul geliefde Juffrou Monique gebring het.

‘n Donker wolk van rou het in September 2017 oor die Vaaldriehoek se sport- en onderwyskringe kom hang na die onverwagse afsterwe van Monique van Emmenis (28), destyds ‘n bekende Sedibengse en nasionale liggaamsbou-titelhouer.

Monique het reeds as laerskoolkind groot sportpotensiaal getoon en was van jongs af betrokke by atletiek, hokkie, tennis en landloop. Later, as onderwysstudent aan die Noordwes-Universiteit, het sy liggaamsbou ontdek en dadelik besef sy was uitgeknip vir dié sport. Met haar onstuitbare wilskrag en dissipline was die drie ure wat sy gemiddeld per dag in die gym geoefen het, een groot fees vir haar. Dit was geen wonder dat sy deur die jare die een na die ander groot liggaamsbouwedstryd gewen het nie.

Tydens Vaalweekblad se laaste onderhoud met haar in 2016, het sy gesê: “Die lekkerste deel van liggaamsbou is die gesonde leefstyl wat mens energiek en vol lewe laat voel. Dit is wel pynlike harde werk, maar ek kan regtig uit my hart uit sê dat dit die moeite werd is.”
Dit was egter by die De Deur Primary School, waar sy tot kort voor haar dood as onderwyseres gewerk het, waar sy besonder diep spore nagelaat het. Die skool se leerlinge kom meestal uit minder gegoede omgewings, maar met haar hartlikheid en liefdevolle geaardheid het sy ‘n wêreld van hoop vir hulle ontsluit. Alles is moontlik as jy vir jouself doelwitte stel en aanhou om in daardie rigting te werk, het sy hulle geleer. En toe breek 24 September 2017 aan en skielik is Monique weggeneem – vermoedelik deur ‘n hartaanval.

Op 29 September daardie jaar het De Deur Primary School se aktiwiteite ‘n dag lank tot stilstand gekom toe die personeel en leerlinge met ‘n groetdiens en loslating van balonne hul laaste eer aan hul geliefde Juffrou Monique gebring het.
“Sy was meer as net ‘n personeellid. Sy was ons almal se suster, dogter of vriendin,” het een van haar kollegas gesê.
Vandag bring Vaalweekblad weer hulde aan dié rolmodel wie se lewe veels te vroeg kortgeknip is.

 

Wyle Monique van Emmenis tydens een van haar deelnames aan ‘n liggaamsbouwedstryd.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button