Midvaal Hoofsweep Rapport: minder kritiseer, meer reflekteer!
Raadsheer Phil Pretorius vra dat ons vanjaar met meer geduld en vrede moet aanpak

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit
Aan die begin van 2023 kyk ek vorentoe maar wonder of ons iets geleer het uit die verlede? Ek soek my Hoofsweep Rapport op van 5 Januarie 2022 en sien hoe ons rapporteer oor swaar reëns, verspoelings en slaggate. Daar word ook gepraat van lang gras en onbegaanbare grondpaaie, vuil parke en verstopte stormwaterdreine. So wat het verander?
Net verlede week komplimenteer ek die Parke-afdeling vir die sny van gras in die dorpsgebiede. Ek het begin rekord hou van hul aksies en agtergekom dat elke keer wanneer ek die lang gras wil rapporteer, is dit minder as ‘n week vantevore gesny. Voor ek dit weer kan rapporteer is dit alweer gesny. Dit is ‘n massiewe verbetering op vorige jare waar daar in die reënseisoen soms selfs net elke vier weke gesny is. Dit is nou maklik om te kritiseer dat jou area miskien nie gesny word nie of nie gereeld genoeg gesny word nie maar ek staan in my eie erf en besef dat ek twee keer per week moet sny om dit netjies te hou. Vir Midvaal om hierdie massiewe munisipaliteit netjies te hou, is ‘n onbegonne taak en ek besef hoe goed hulle dit eintlik doen. Ek verstaan dat as jy terugstaan en na die groter prentjie kyk, besef jy dat wat hier in Midvaal gebeur, eintlik fenomenaal is. Ons kla soms met die witbrood onder die arm en oor klein onbenullighede, baie onregverdig so.
By Hoërskool Dr. Malan se opening op 11 Januarie 2023 sê dr. Marcel Botha aan die personeel dat ons elkeen ons bes doen in ons rol en dat mens soms vir ander wil sê: “Kom spandeer net ‘n dag in MY skoene, dan praat ons weer.” So dink ek aan die raadslede, die Midvaal-personeel en die publiek wat soms so lelik kritiseer. Ek dink aan die werkers wat die laaste jaar begin het om sewe dae ‘n week te werk om grondpaaie reg te maak en slaggate te vul sodat ons die paaie kan gebruik na harde reënbuie en dan toegesnou word dat hulle dit net doen vir die “oortyd” (ons wil mos almal eerder met teer in ons hande langs ‘n gat staan as met ‘n geskenk langs ‘n kersboom). Ek dink aan die grassnyspanne wat dubbel so hard werk en ekstra kontrakteurs wat aangestel is om hulle by te staan sodat ons dorpie kan mooi lyk maar op sosiale media beswadder word wanneer hulle stop om water te drink. Ek sien die foto’s op MMCs se Facebook waar hulle in die middernagtelike ure uitgaan na verspoelings om mense te help sodat hulle as rassiste sleggemaak kan word. Ons paaie-span werk om brûe reg te maak om 03:00 v.m. sodat ons 06:00 v.m. kan werk toe ry terwyl whatsapp-groepe van wyke bulder dat Midvaal weer NIKS doen nie en nog NOOIT iets vir hulle gedoen het nie. Ek sien die foto’s op Facebook en hierdie whatsapp-groepe van “modderige draai” op ‘n GRONDPAD en lees die aanmerking met trane in my oë terwyl ek weet dat ‘n ma drie kilometer daarvandaan soek na haar kind in die rivier.
Ek kyk na die waterspanne wat tot by hul kenne in waterpoele staan net om uitgekryt te word dat hulle hul tyd vat en elektrisiëns wat beurtkrag moet aan en af sit drie keer per nag – en as dit 3 minute laat is, word hulle op sosiale media gevloek. Ek sien die motorenjins en dooie diere wat uit stormwaterpype gehaal word waar inwoners intensioneel sobotasie pleeg terwyl ‘n inwoner rioolvideo’s van twee jaar gelede oor sosiale media as vandag s’n plaas. Ek sien die storting van bourommel en tuinvullis van mense wat hulself wysmaak dit sal geen verskil maak aan die omgewing of infrastruktuur nie maar môre kla hy oor die verstopte dreine en ongure reuke. Ek sien die onmenslike aanvalle op raadslede, munisipale personeel en selfs die buurtwagte en GPF wat ‘n ondankbare diens verskaf en dink by myself – wat is die alternatief? Jy bel die GPF omdat die SAPD nie antwoord nie, dan is jy ontsteld oor hulle te lank vat na jou sin? Jy bly in Midvaal omdat Emfuleni uitmekaar val maar jy skel Midvaal omdat Eskom beurtkrag toepas? Ons breek mekaar af stukkie vir stukkie oor onbenullighede en besef nie die impak wat dit op die psige van die individu of die instansie het nie. Hoe lank voor die hond wat jy aanhou skop jou byt of omdraai en weghardloop?
Ek wil vra dat ons hierdie jaar met meer geduld en vrede sal ingaan en ek wil hiermee my hashtag vir die jaar aan julle voorlê: #minderkritiseermeerreflekteer
Want ek is en bly TROTS MIDVAAL!
Voorspoedige 2023.
Midvaalgroete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

*********************************************************************************************************
