NewsNews

Mnr. Van der Walt – wetenskap onnie van formaat

Mnr Michiel van der Walt was vir jare deel van die Bijler-personeelkorps. Eers as Natuur en Skeikunde onderwyser en later jare as adjunkhoof. Lees meer...

DRIE RIVIERE. – 1978. Dit was die jaar wat mnr. Michiel van der Walt deel van die personeelkorps van die Hoërskool Vanderbijlpark geword het. In 2006 het hy as adjunkhoof afgetree.

Die meeste oud-Bijlers onthou hom as hul natuur en skeikunde onderwyser. Die wat gelukkig genoeg was om wetenskap by hom te kry, beskryf hom as ‘n deeglike onderwyser.

Michiel van der Walt, steeds ‘n ware heer met ‘n sagte hart.

Die man was uitstekend in sy vakgebied. Altyd rustig, effe verstrooid, met ‘n droë sin vir humor en altyd aan die gang.

Hy was ook die een wat rekenaars verstaan het, lank voordat dit algemeen geword het. Daarom moes hy elke jaar die hele skool se punte inlees.

“Ja, ek het dalk nie almal se gesigte geken nie, maar wel almal se name en ek het altyd hul punte onthou,” vertel hy by sy huis in ‘n aftreeoord in Drie Riviere.

Sy Bijler-dae onthou hy met ‘n glimlag. “Ons was ‘n goeie skoolfamilie. Ek moes altyd die klank behartig vir die Interhoër. Dit was myle se drade wat gespan moes word.”

Vanderbijlpark se Interhoër is desjare terug op die Hoërskool Vanderbijlpark se velde gehou. Synde dat dit die enigste skool met ‘n groot genoeg pawiljoen was.

“Dan begin dit reën twee dae voor Inter en die een hoek van die veld word ‘n swembad,” lag ons saam.

Michiel of Oom Mike soos hy bekend staan, het ook spiesgooi en skaak afgerig. Hy het gereeld op skooltoere gegaan en sê hy het sommer vroeg geleer om nie sy kombers in sy tas te pak nie.

Dit kan koud raak op ‘n bus in die nag! Dan was hy altyd agter die skerms doenig om die skool se toneelgroepe te ondersteun.

In sy adjunkhoofdae het hy ander vakke aangebied, van lewensoriëntering tot wiskunde en rekenaarstudies, maar dis wetenskap wat hom altyd die naaste aan die hart gelê het.

“Ek mis dit steeds om met kinders te werk,” vertel hy, “veral aan die begin toe daar slegs 16 kinders in ‘n klas was. Was toe baie makliker om die eksperimente te doen.”

Is moeilik om te dink dat hy amper nie onderwyser geword het nie! Michiel is in Johannesburg gebore, totdat die gesin in sy standerd 1 (gr. 3) jaar na Vanderbijlpark verhuis het.

Hy was in die Laerskool Totius en was later een van die eerste leerlinge van die Laerskool Frikkie Meyer.

Michiel en Jo van der Walt op hul troudag, 30 Maart 1968. Foto’s: Verskaf

Nadat hul Sasolburg toe verhuis het, het hy by die Laerksool AJ Jacobs skoolgegaan en later sy matriek aan die Hoërskool Sasolburg voltooi.

Hy het B.Sc aan die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege geswot en daarna as skeikundige by ‘n maatskappy begin werk en vinnig opgang gemaak.

Dit was totdat hy besef het as hy so aangaan sal hy ‘n bed in sy kantoor moet kry. Daarvoor het hy nie kans gesien nie en het mnr. Ben Claassen, wat toe skoolhoof by die Hoërskool Vanderbijlpark was, geskakel. Die res is geskiedenis.

Michiel is getroud met Jo en die paartjie sal op 30 Maart hul 55ste huweliksherdenking vier. Sy vrou was al die jare onderwyseres by Die Ankerskool in Vanderbijlpark.

Sy sukkel tans met haar gesondheid en Michiel is nou die selfaangestelde kok in die huis.

“Ek verstaan vandag waarom het sy my altyd gevra wat eet ons vanaand? Ek besef nou dit was ‘n hulpkreet, want regtig, wat maak mens nou elke aand?,” lag hy.

Michiel en Jo van der Walt saam met hul kleinseun, Franco van den Berg.

Die egpaar het twee dogters, Riëtte en Santi, twee kleinkinders, Franco en Marissa van den Berg en twee agterkleinkinders, Jana en Olive van den Berg. Oupa is baie trots op sy kleinkinders.

Marissa is ‘n gimnas en ballerina by Ballet Beyond Borders en Franco is ‘n professionele rugbyspeler vir die Utah Warriors in die VSA.

Getrou aan sy geaardheid, het onse Oom Mike nie gaan stilsit na aftrede nie. Hy het in 2012 begin jukskei speel en is steeds voorsitter van die Kiewiet Ontspanningsklub.

Wanneer die oord se heffings aangepas moet word, is hy eerste daar om die administratiewe dame met al die syferwerk en formules op Excel te help.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button