Local newsNews

Help Quinton om The Fast One plat te trap vir diere in nood

Skenkers wat Quinton en sy DBV-projek ondersteun, kom in aanmerking vir 'n gelukstrekking waarin 'n kosbare kunswerk gewen kan word!

 

 

MEYERTON. – Quinton Schuurman (36) is mal oor fietsry, maar nog maller oor diere. Op Sondag, 29 Januarie, bring hy dié twee liefdes bymekaar wanneer hy ten bate van die Dierebeskermingsvereniging aan die Midvaal Fast One Cycle Challenge gaan deelneem. Hy maak staat daarop dat alle diereliefhebbers van die Vaal hom in dié doel sal ondersteun.

Die fietsrygogga het Quinton behoorlik gepak toe hy homself oor die feesseisoen uitgedaag het om per fiets van Meyerton na die Vaaldam te ry, waar vriende van hom gekamp het. Op pad daarheen het ‘n hengse hael- en reënstorm uitgebars maar daar was nie kans vir omdraai nie. Hy moes maar deurdruk en het papnat en vol modder by die dam aangekom. Sy vriende het hom lekker geterg en gesê dit lyk of hy in die dam geval het. Maar dit was alles die moeite werd.

In die nuwe jaar, toe hy die berig oor die Midvaal Fast One Cycle Challenge in Ster sien, het hy net daar besluit hy gaan die uitdaging aanvaar en vir die 28 kilometer-afstand registreer, al het hy nog nooit voorheen aan ‘n fietswedren deelgeneem nie. Om die uitdaging nog moeiliker te maak, het hy besluit hy gaan dit kombineer met ‘n projek om geld vir die DBV in te samel. Hy is nou op soek na borge wat bereid is om hom per kilometer te borg teen ‘n bedrag van hul eie keuse.

Sy ma, Christine Schuurman, is net so lief vir diere, daarom was dit maklik om haar by sy projek te betrek. Christine, die bemarkingsbestuurder van Mary-Jane Artworx in Vereeniging, help hom om borge te kry en sy het ook ‘n waardevolle kunswerk van die bekende kunstenaar, Daniel (Niel) le Roux, beskikbaar gestel wat in ‘n gelukstrekking deur een van die borge gewen gaan word.

Enigiemand wat Quinton wil borg of ‘n eenmalige donasie wil maak om vir die prys in aanmerking te kom, kan Christine by 082 732 1531 of 076 833 8268 kontak. Sy sal jou naam dan op die borgvorm aanbring en ‘n nommer vir die gelukstrekking aan jou toeken. Die borgbedrae sal direk deur borge in die DBV Vanderbijlpark/Vereeniging se bankrekening inbetaal word.

“Ons vra alle diereliefhebbers en plaaslike besighede om Quinton se projek vir die DBV te ondersteun en hulle harte oop te maak vir ons streek se diere in nood,” vra Christine.

 

Die waardevolle skilpad-helmet deur die kunstenaar Daniel le Roux, wat deur ‘n gelukkige borg gewen gaan word.

 

Quinton Schuurman, wat The Fast One Cycle Challenge volgende Sondag ten bate van die DBV gaan aandurf. Regs is nog een van die kunstenaar Daniel le Roux se uitsonderlike kunswerke uit metaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button