Local newsNews

Vaal se ‘ Skrikkel-tweeling’ gaan grootskool toe!

Hul nuwe jaar het egter nie sonder drama weggespring nie... Albei begin hul skoolloopbaan met beserings, maar dit pla hulle blykbaar nie veel nie

 

VANDERBIJLPARK. – Hoe vlieg die tyd… In Maart 2016 het Vaalweekblad die geboorte van die streek se eerste Skrikkeljaar-tweeling op voorblad aangekondig, en verlede week is die tweestuks reeds “grootskool” toe.
Logan en Luhan Sadie is op 29 Februarie 2016 met ‘n keisersnit in Emfuleni Mediclinic in die wêreld gebring – ‘n dubbele pakkie vreugde vir hul ouers, Ma Sunette, ‘n rekenmeester, en Pa Franco, ‘n projekbestuurder op konstruksieterreine.

Sunette het destyds gesê dat daar heelwat tweelinge in haar, sowel as haar man se families is, dus was die dubbele geskenk nie heeltemal onverwags nie. Die feit dat hulle op Skrikkeldag gebore is en die 29 Februarie-datum net elke vierde jaar op die almanak aangedui word, beteken dat die tweeling se verjaardag in ander jare op 28 Februarie gevier word. Luhan en Logan is nie identies nie en volgens hul ma verskil hulle soos dag en nag.

“Logan is ons Minister van Finansies. So klein as wat hy is, is hy ‘n meester in enige somme en om met geld te werk en te spaar. Hy is ook ons gimnas. Luhan, aan die ander kant, is ons wilde rabbedoe en leef op adrenalien. Hy is baie sportief, hou baie van offroad bike ry en is die meester van toertjies doen op enigiets, van fietse tot front en back flips op die trampolien. Hy maak natuurlik sy ma se senuwees gedaan,” lag Sunette. Luhan is ook baie kunstig en teken graag, waarmee hy verlede jaar ‘n A++ by die kunstefees verwerf het.

Die twee boeties is die eerste vier jaar van hul lewe bedags deur hul ouma Sarie van Biljon versorg, waarna hulle hul RR-jaar by die Laerskool Eligwa, en Graad R by die Laerskool DF Malherbe se Super Snuiters gedoen het. Hulle het hul Graad 1-jaar verlede week ook by DF Malherbe begin.
Hul nuwe jaar het egter nie sonder drama weggespring nie… Luhan het onlangs sy arm gebreek toe hy van ‘n springkasteel afgespring en direk op sy arm beland het. Vrydag was dit Logan se beurt toe hy sy lip oopgeval en sy neus gekraak het in ‘n fratsongeluk terwyl die boeties op ‘n trampolien gespeel het.
Die energieke tweeling se pret word duidelik nie deur dié tydelike terugslae bederf nie. “Hulle pas beslis maklik aan in die skool en geniet die pouses natuurlik vreeslik baie met al die maats,” sê hul ma.

 

Argieffoto: Die Vaaldriehoek se eerste Skrikkeljaar-tweeling, Logan en Luhan Sadie, pas na hul geboorte in Pa Franco en Ma Sunette se arms. Die foto is in 2016 deur Jannie du Plessis geneem.

 

Logan en Luhan verlede week op hul eerste skooldag by die Laerskool DF Malherbe.

 

Die twee boeties kort na hul geboorte in 2016,

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button