Brandweerwa doen nou vuurwarm sake voor winkelsentrum
Dit is nie die eerste keer dat Darryl Zaayman die publiek met 'n kreatiewe sakeplan verras nie....
VEREENIGING. – Motoriste en voetgangers sal dalk met verbasing opmerk dat ‘n spoggerige brandweerwa nou permanent voor ‘n winkelsentrum in Ou Johannesburgweg staan. En nee, dit is nie ‘n toevoeging tot die stad se nooddienste nie maar ‘n mobiele restaurant waar jy ‘n kitskoshappie op galop kan koop!
Die ongewone brandweerwa-restaurant, bekend as “Fire Food Truck” is die breinkind van Darryl Zaayman, ‘n jong Vereenigingse sakeman wat voorheen ook al in die nuus was met sy unieke sakeplanne.
“Ek was van jongs-af mal oor brandweerwaens en weet dit trek tot vandag toe kinders se aandag. Ek het hard begin soek na ‘n ou brandweerwa wat te koop was en uiteindelik een in Secunda opgespoor,” sê Darryl. Die voertuig was ideaal om omskep te word in die mobiele restaurant wat hy in sy geestesoog gesien het, maar toe begin die groot taak om dit om te bou.
“Die totale projek om dit te omskep het my sewe maande gevat en ek het alles self gebou. My vrou, Lané, wat gehelp het om die besigheid op die been te bring en die kosteberekening te doen, het ook die signage en logo van die Fire Food Truck behartig. Die lisensies om dit te bedryf was maar standaard en dieselfde as wat ‘n wegneem-eteplek of restaurant moet hê,” sê hy.
Tans word smullekker kitshappies soos Boerewors, warmbrakke, cheesegrillers en ribrolle hier verkoop, sowel as ‘n verskeidenheid warm en koue nie-alkoholiese drankies soos koeldrank, luukse Dallmayr Duitse koffie, cappuccino’s, cafe latte, gewone koffie en warm sjokolade. Die brandweerwa staan nou permanent voor Vereeniging Motor Spares en Afrikano Concepts in Ou Johannesburgweg.
Dit is nie die eerste keer dat Darryl die publiek met ‘n kreatiewe sakeplan verras nie. Hy het onder andere die Aqua Lounge, ‘n reuse-riviervlot wat deur die jare al ure se genot aan partytjiegangers verskaf het, gebou en is steeds eienaar van Aqua Lounge Cruises wat op die Vaalrivier in Vereeniging bedryf word.
In 2014 was Darryl ook op Vaalweekblad se voorblad met sy LiftJetboard-ontwerp waarmee hy bo-op ‘n waterstraal op ‘n branderplank gery het.
Hoewel hulle sakebelange op die Vaalrivier voortgaan, sien Darryl en Lané baie daarna uit om hul sakefokus na “vaste grond” uit te brei en hulle glo die brandweerwa gaan binnekort ‘n bekende baken in Vereeniging wees.



