Local newsNews

Dapper ‘Ridder in ‘n rolstoel’ benodig nou nuwe wiele

Waar ander dalk al lankal sou moed opgee, kyk Francois Zietsman altyd in geloof vorentoe!

VANDERBIJLPARK. – Die eerste agt jaar van Francois Zietsman (50) se lewe was sorgeloos en vol pret soos dié van meeste klein seuntjies. Dit was tot die dag van ‘n verskriklike ongeluk in 1980 toe ‘n band van hul gesin se Hi Ace-bussie op pad van die skool af op ‘n plaaspad gebars het. Die voertuig het gerol en Francois, wat toe in Graad 2 was, is uitgeslinger.

Twee van sy bababoetie se ribbes was gebreek, ma Rika het geringe rugbesering opgedoen, en sy suster Erika het ‘n snywond op haar been gehad. Francois was minder gelukkig. Die vel van sy vergruisde gesig het losgeskeur en letterlik op sy bors gehang. Een oog was nog in sy oogkas maar die ander een is heeltemal uitgeruk.

Vir Francois was dit ‘n geveg om lewe en dood. Hy het dadelik noodchirurgie van 11 ure ondergaan om die legkaart wat van sy gesig oorgebly het, weer bymekaar te sit en met 147 steke te heg. Hy het sy regteroog verloor, maar gelukkig kon sy linkeroog gered word. Na talle operasies en ongeveer ses maande in die hospitaal kon hy uiteindelik huis toe gaan, maar dit was net die begin van sy stryd.

Twee jaar later is hy met rumatoïede artritis gediagnoseer, vermoedelik die gevolg van komplikasies wat gedurende sy behandeling ingetree het. Sy gewrigte het vervorm geraak en hy moes as hoërskoolseun ‘n heup- en knievervanging ondergaan. Dit was ‘n tydperk van intense pyn en baie trane wat hom dikwels laat wonder het of God van hom vergeet het. En toe verwerp sy liggaam boonop die heup- en knieprosteses in sy linkerbeen, wat gevolglik geamputeer moes word. ‘n Paar jaar later moes sy regterbeen ook afgesit word omdat sy knie “gevries” het en die been onbruikbaar geraak het. Weens die rumatoïede artritis het sy hande ook inmekaar begin trek.

Terwyl meeste mense by dié punt handdoek sou ingooi, het Francois die uitdagings moedig aanvaar en ook dié terugslae oorkom danksy sy kenmerkende positiwiteit, sy humorsin en innerlike krag. Intussen het hy aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer en as ‘n rekenaartegnikus gekwalifiseer. Hy het onder andere by ‘n plaaslike opleidingsinstansie gewerk en ‘n sakeonderneming saam met sy broer begin. Francois en sy elektriese rolstoel het spoedig ‘n bekende gesig in Vanderbijlpark geword terwyl hy padlangs gery het waar hy wou wees.

Deur al die uitdagings het hy sy geloof behou en geweet dat God hom nie bo sy vermoë sou beproef nie. En toe skryf hy in vir ‘n geestelike verrykingskursus by sy kerk en beland langs ‘n pragtige blondine, Zammy, wat self deur diep waters gegaan het na ‘n pynlike egskeiding. Nie een van die twee was in daardie stadium op soek na romantiese liefde nie, maar die saadjie vir ‘n innige vriendskap is daar geplant. Hulle het mekaar gereeld vir koffie begin ontmoet en hul vriendskap het ontwikkel in ware liefde.

Een somersoggend is die twee na die Vaalrivier, waar die sjarmante Francois “iets” aan ‘n vislyn geknoop en in die water gegooi het. Die niksvermoedende Zammy moes dit uittrek en het skielik besef dat daar ‘n ring aan die lyn was. Sy het haar “ridder in ‘n rolstoel” net daar die jawoord gegee. Twee jaar later, in Oktober 2011, het hulle op dieselfde plek langs die rivier voor 50 gaste ewige trou aan mekaar beloof. Sedertdien is die diep gelowige egpaar onafskeidbaar. Hulle kuier tans in Wildernes by Zammy se ma, Connie Vermaak, wat ook baie jare in Vanderbijlpark gewoon en gewerk het.

Ondanks sy fisiese uitdagings het Francois tot nou toe webwerwe vir sakeondernemings ontwerp en houtwerk in sy garage gedoen. Sy artikels uit hout het hy vir ‘n ekstra inkomste by vlooimarkte verkoop, maar sy beweeglikheid word aan bande gelê deur sy verouderde rolstoel, wat glad nie meer wil saamwerk nie. Die onderdele wat vervang moet word, is nie meer beskikbaar nie en selfs nie meer in die buiteland te koop nie. Om normaalweg te kan voortgaan met die lewe wat hy tot hier toe vir hom en sy vrou uitgebeitel het, sal hy ‘n nuwe elektriese rolstoel moet kry, maar dit kos ‘n allemintige R50 000.

Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak om Francois en Zammy se sprokiesverhaal te laat voortleef, kan ‘n inbetaling maak na Francois Zietsman, Absa Spaarrekening: 538 710 830, Takkode: 632005.

Besoek sy Back-a-Buddy blad hier: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/francois-zietsman 

 

Francois en sy vrou, Zammy, wat in 2011 in Vanderbijlpark getroud is. Foto: Francois Booyens

 

Francois as tiener, wat toe reeds by ‘n lewe van pyn en terugslae moes aanpas.

 

Francois as skoolbeginner, kort voor die ongeluk in 1980.

 

Francois en Zammy Zietsman – Foto geneem deur Francois Booyens

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button