Vang solank gees vir die Goeiehoek Fees!
Kom kuier op 11 Februarie saam met die boeregemeenskap op die plaas Bosrand!
Op 11 Februarie open die hekke om 08:30 vir die eerste Goeiehoek-kontreimark van die jaar! Die feestelikheid gaan aanhou tot 13:00 die middag.
Dié gewilde boeremark op die plaas Bosrand in die Midvaal-distrik is al ‘n gunsteling by stadsjapies wat van ver af kom om plaasvars groente, vrugte, vleis, biltong, kaas en vele meer hier te koop. Moet ook nie vergeet van die spoggerige tuisgebak, konfyt, blatjang, souse en gemmerbier nie! Dan is daar ook handgemaakte artikels vir die huis, klerekas, tuin en lapa, kunswerke, juwele, oudhede en nog talle ander interessanthede.
Die Februarie-markdag gaan fokus op alles wat met liefde en Valentynsdag verband hou – hier gaan pragtige geskenke wees vir jou skatlam, vir jou vriendinne, ouers en kinders of vir enigiemand aan wie jy ‘n liefdesgeskenkie wil gee. Soos altyd sal hier ook weer tradisionele pap en kaiings, afval en gebakte skaapkop wees, of kom val in by die teetuin vir ‘n heerlike koppie tee, boeretroos en ander eetgoed. Bring maar genoeg kontant want beurtkrag kom soms onverwags en dan gaan die uitstallers se kaartmasjiene nie werk nie.
Onthou ook om jou kaartjies te koop vir ‘n trekking waarin ‘n varkie – opgesny, verwerk en verpak – te wen is. Nog ‘n prys wat gewen kan word, is ‘n heerlike Valentynskoek!
Toegang is gratis maar ‘n vrywillige ingangsbydrae van nie-bederfbare voedsel of kontant sal baie waardeer word. Dit is ten bate van die Geloofkwekers Woordbediening in Midvaal.
* Roeteaanwysings: Die Goeiehoek Kontreimark word op die plaas Bosrand in die Midvaalgebied gehou, sowat 12 kilometer vanaf 4Way Motors in Drie Riviere. Padaanwysings: Neem die R42-roete van Vereeniging na Heidelberg. Draai rigting Goeiehoek by die Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf kruising, draai regs in die syaansluiting, rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op linkerhand ná die syaansluiting.
Kontak Annatjie per WhatsApp by 083 541 9908 vir meer inligting oor die markdag



