Midvaal-stadsraad kry NEGENDE skoon ouditverslag!
Midvaal veg voort vir deursigtige en verantwoordelike bestuur
Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit
Op die Midvaal-raadsvergadering van 31 Januarie 2023 het die Ouditeurgeneraal Midvaal se NEGENDE skoon ouditverslag bevestig. In sy aanbieding bevestig hy dat Midvaal een van die beste in SA is en ‘n verbetering op die vorige verslag sien. Skoon ouditverslae kom nie maklik nie en dit het Midvaal ‘n hele aantal jare geneem om die instansie reg te ruk nadat die DA oorgeneem het by die ANC in 2000. Dit vergelyk met ‘n motor wat afdraande maklik vry kan loop maar wanneer jy opdraande swaartrek, is die enjin met al die gekompliseerde parte en brandstof noodsaaklik. Elke skroef en rat is belangrik en in sy plek doen hy/sy, sy/haar werk om die gewenste uitkoms te bewerkstellig. Op dieselfde manier is daar talle gekompliseerde personeel, insette en prosesse wat ‘n munisipaliteit suksesvol laat funksioneer.
Ek gee graag weer ‘n kort oorsig oor hoe Ouditverslae funksioneer. Dit kom voor in drie hoofkodes:
i.) Ongekwalifiseerd (met of sonder bevindinge) – wat beteken dat die state wat ondersoek is, deur die Ouditeurgeneraal geen beduidende probleme bevat nie
ii.) Gekwalifiseerd (met bevindinge) – wat behels dat daar probleme is en sekere aangeleenthede uitgewys word, en dan
iii.) Nadelige bevindinge – wat redelike probleme aandui.
Wanneer ‘n munisipaliteit ‘n ongekwalifiseerde ouditverslag kry, is dit nie soos die populêre media dit vertolk dat die munisipaliteit nie “gekwalifiseer” het nie. Dit dui aan dat positiewe bevindinge gemaak is en word ook na verwys as ‘n SKOON OUDIT in die volksmond. Daar is ‘n wanpersepsie dat ‘n instansie met ‘n skoon oudit volmaak is. Dit is nie akkuraat nie. Geen munisipale instansie is volmaak nie en daar is konstante uitdagings wat die hoof gebied moet word. ‘n Skoon Ouditverslag beteken nie dat wanneer daar na ‘n harde reënseisoen oornag talle slaggate verskyn, die munisipaliteit dit oornag kan herstel nie. Dit is ‘n lang en moeilike proses. Die verskil is dat in ‘n munisipaliteit waar NADELIGE BEVINDINGE gerapporteer is, sal die slaggate seker nooit herstel kan word nie waar in Midvaal daar ‘n daadwerklike plan is met ‘n begroting en spanne wat sewe dae ‘n week daaraan werk, al is dit soms stadig en moeilik.
Die ouditverslag reflekteer wel dat dit wat die munisipaliteit gesê het hulle gaan doen en dit wat hulle gedoen het, en dan ook gerapporteer het in hulle finansiële verslae, evaluerings en jaarverslag, akkuraat en korrek is.
As die munisipaliteit dus beplan het om slegs vyf nuwe grondpaaie te teer (gravel-to-tar) en hulle het dit gedoen, is dit akkuraat en kry hulle die punte, ensovoorts. As hulle begroting reg opgestel was en reg gespandeer was, kry hulle die punte. As hulle probleme gehad het met onbeplande nooduitgawes (bv. vloede), maar hulle het dit reg hanteer, gerapporteer en die gevolge bestuur, kry hulle die punte. Die hooffokus is dus: DEURSIGTIGE, VERANTWOORDELIKE EN VERANTWOORDBARE BESTUUR.
Ter dankbetuiging vir die Ouditeurgeneraal se aanbieding voer die burgemeerster, Raadsheer Peter Teixeira, in die raadsvergadering aan dat ‘n skoon ouditverslag niks help as die inwoners dit nie in hulle lewens kan sien en voel nie. Al het die goeie bestuur en finansiële volhoubaarheid van die munisipaliteit ‘n direkte impak op die uitvoer van die dienste in die munisipaliteit, het Raadsheer Teixeira onderneem om steeds harder te werk om die impak van die negende skoon oudit in mense se lewens te sien. Hy het verder die administrasie bedank vir hulle harde en volgehoue werk om die munisipaliteit van krag tot krag te laat vorder. Midvaal veg voort vir deursigtige en verantwoordelike bestuur wat op die Demokratiese Alliansie se partybeginsels gebaseer is.
Trotse Midvaal Groete, Ph!l.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

