Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk help opruim na vloede
Lede van die Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk het Sondag (26 Februarie 2023) die Sunset Paradise in Vanderbijlpark besoek om op te ruim waar vloedwater vroeër groot verwoesting gesaai het.
VANDERBIJLPARK.- Volgens Alta du Plooy, ’n inwoner van Vanderbijlpark, was daar nie tyd vir ontruiming nie en baie mense moes gevolglik met die klere aan hul lyf vlug toe die watermassa opgestoot het.
Die gebied het oorstroom nadat daar teen Vrydag 17 Februarie 2023 in totaal 12 sluishekke by die Vaaldam oopgetrek is en al die Barrage se hekke ook oopgetrek is om water vry te laat weens ‘n sterk invloei van water vanuit die Vaaldam se opvangsgebied.

Teen Sondag (26 Februarie 2023), nadat die water teruggesak het, was daar modder en slik net waar jy kyk en ‘n stank in die lug.
As die weer dit toelaat sal lede van die Vaaldriehoek-Kultuurnetwer weer op Sondag 5 Maart na die gebied terugkeer om die opruimingswerk voort te sit.
Die kultuurnetwerk beplan ook om vir inwoners wat deur die vloede geraak is ’n bord kos voor te berei.
Mense wat bereid is om kos te skenk of met die voorbereiding van die kos kan help, kan vir Okkie Jooste by 071 478 8816 skakel.
“Enige skenking word waardeer,” sê Jooste.
Die kultuurnetwerk benodig onder meer aartappels vir aartappelslaai, pampoen en suiker vir pampoenpoffertjies, vars broodrolletjies, houtskool en Blitz, sowel as koeldranke.



