Amputasie: Awie sê baie dankie – al gaan dit nog swaar
"Ons wil net duisende dankies sê aan almal wat my pa en ons gesin deur die afgelope maande bygestaan het. Ons weet nie wie almal is nie maar ons glo dat die Here weet en elkeen sal seën," sê Christelle.
VANDERBIJLPARK. – Mnr. Awie Esterhuizen (71), wat op 23 Januarie ‘n gedeeltelike amputasie van sy linkervoet in die Baragwanath-hospitaal ondergaan het, maak goeie vordering al lê daar nog ‘n lang pad na herstel voor.
Vaalweekbld het vroeër vanjaar berig dat Awie se regterbeen in September 2022 weens gangreen tot by die knie afgesit moes word. Dieselfde toestand het daarna in sy linkervoet ontwikkel. Hy was die afgelope Kerstyd in geweldige pyn in die Sebokeng-hospitaal voordat hy in Januarie in Baragwanath geopereer is. Buiten die gedeeltelike amputasie van sy linkervoet is ‘n operasie ook gedoen om ‘n aar vanaf sy lies tot by sy knie uit te haal en in die geaffekteerde weefsel oor te plant om bloedvloei na die amputasiewond te verbeter.
Awie is reeds ontslaan en sterk nou tuis aan in Vanderbijlpark. Danksy skenkings wat van Back-a-buddy, familie, vriende en vreemdes ontvang is, sowel as fondse van sy eie, kon hy ‘n battery-aangedrewe karretjie koop waarmee hy tans oor die weg kom. Hy ontvang steeds weeklikse wondsorg by Emfuleni Mediclinic, waarvan die koste tussen R500 en R800 per week beloop. Dele van die wond is steeds swart, maar die wondsuster hou dit met arendsoë dop en daar word gehoop dat dit mettertyd volledig gaan genees.
Volgens Awie se dogter, Christelle, is dit die familie se hartsbegeerte om hom weer te sien loop. Hulle spaar nou vir ‘n kunsbeen, wat sowat R35 000 gaan kos.
Die Back-a-Buddy rekening is nou gesluit, maar enigiemand wat dalk nog ‘n bydrae wil maak vir sy wondsorg of kunsbeen kan skenkings inbetaal by Nedbank, rekeninghouer: CJ Esterhuizen, spaarrekening: 2748 430 697.
“Ons wil net duisende dankies sê aan almal wat my pa en ons gesin deur die afgelope maande bygestaan het. Ons weet nie wie almal is nie maar ons glo dat die Here weet en elkeen sal seën,” sê Christelle.
FOTO’S ONDER (Nie vir sensitiewe kykers nie):
HIER IS DIE OORSPRONKLIKE BERIG OOR AWIE WAT IN JANUARIE IN VAALWEEKBLAD VERSKYN HET:
‘n Bleek feestyd vol pyn, wagtend op amputasie
VANDERBIJLPARK. – In plaas daarvan om fees te vier, was die afgelope Kersfees en Nuwejaar ‘n kleurlose tyd vol pyn en kommer vir mnr. Awie Esterhuizen (71), waar hy in die Sebokeng-hospitaal wag dat sy voet en moontlik ook ‘n gedeelte van sy linkerbeen geamputeer moet word.
Mnr. Esterhuizen se regterbeen is reeds in September verlede jaar tot bokant die knie afgesit weens komplikasies wat ingetree het nadat hy gangreen ontwikkel het. En nou is dieselfde besig om met sy linkervoet te gebeur.
Volgens sy dogter, Christelle, is mnr. Esterhuizen al etlike jare ‘n diabeet wat sy medikasie getrou neem. Hy het so twee jaar gelede ‘n seerplek wat nie gesond wou word nie, onder sy regtervoet ontwikkel. Omdat die gesin nie veel kennis van diabetiese sere het nie, het hulle aanvanklik gedink dat dit ‘n doring was wat in sy voet ingesteek het. Mnr. Esterhuizen, wat sedert sy aftrede by Afrisam nie meer ‘n private mediese fonds het nie, het ‘n afgetrede verpleegster se hulp ingeroep. Dié het maande lank gehelp om die wond te behandel en dit was besig om mooi te genees toe hy skielik ‘n terugslag gehad het. Die wond het binne ‘n kort tyd swart geword en so vinnig versprei dat die gesin besef het hulle kon hom nie langer tuis versorg nie.
“My pa het skielik baie siek geword en ons het hom in Sasolburg se staatshospitaal laat opneem, waar hy ongeveer twee weke gelê het. Die wond het ongelukkig verder versleg omdat hy geen antibiotika of wondversorging ontvang het nie. Na twee weke is hy na Kroonstad oorgeplaas waar die voet en been net verder agteruit gegaan het. Na nóg twee weke, op 12 September, is hy na Bloemfontein oorgeplaas, waar ‘n amputasie nog dieselfde aand gedoen is. Ons harte was stukkend maar die Here het ons deurgedra,” sê Christelle.
Na sy ontslag was hy sowat ‘n week terug by die huis toe sy gesin een middag sien dat hy besonder bleek was en baie siek lyk. Paramedici van ER24 het bevind dat hy byna in ‘n diabetiese koma was en het hom omstreeks 14:00 die middag weer na die Sasolburg-hospitaal geneem.
“Toe hy teen 21:00 die aand steeds geen behandeling ontvang het nie, het my wonderlike base geld voorgeskiet sodat ons hom na Cormed-hospitaal kon laat oorplaas, waar hy ‘n week lank uitstekende behandeling ontvang het. Na sy ontslag het hy egter ‘n wond aan die linkerkleintoontjie ontwikkel. Danksy die wondverpleegster het dit aanvanklik mooi reggekom maar toe weer versleg en vinnig versprei. My pa het skielik baie siek geword en ons het hom kort voor Kersfees danksy fondse wat sy broer voorgeskiet het, weer in Cormed laat opneem. Ongelukkig is bevind dat sy voet nie redbaar is nie en geamputeer sal moet word. Hy is toe na die Sebokeng-hospitaal vir verdere prosedures oorgeplaas. Die wonde aan sy voet lyk tans verskriklik sleg en ‘n amputasie sal so gou as moontlik gedoen moet word. Dit breek ons harte om ons pa so te sien lê. Ons grootste wens is om genoeg geld te kan insamel sodat ons hom vir die amputasie na Cormed kan laat oorplaas,” sê Christelle.
Die gesin het reeds mnr. Esterhuizen se Toyota-dubbelkajuitbakkie verkoop om fondse te genereer – ‘n hartseersaak vir die Esterhuizens, maar nóg geld is nodig om vir ‘n amputasie in ‘n privaathospitaal te betaal. ‘n Back-a-buddy rekening is reeds vir mnr. Esterhuizen geopen, maar mense wat graag EFT-bydraes wil maak, kan dit ook direk inbetaal by Nedbank, rekeninghouer: CJ Esterhuizen, spaarrekening: 2748 430 697.
WAARSKUWING: DIE FOTO’S HIER ONDER KAN SENSITIEWE LESERS ONTSTEL. MOENIE VERDER AFROL AS JY DEUR FOTO’S VAN WONDE ONTSTEL WORD NIE.





