Local newsNews

Annelize kry baie swaar maar veg voort teen “super-bugs”

Nuwe antibiotika is haar laaste kans om die weerstandige bakterie te oorwin.

 

MIDVAAL. – Annelize Potgieter, ‘n Meyertonse ma van twee tieners wat septisemie opgedoen het na ‘n rugoperasie, se toestand het nog nie merkbaar verbeter sedert sy onlangs ‘n  terugval gehad het nie. Sy kry tans baie swaar en die pad vorentoe is nog baie onseker.

Vaalweekblad het vroeër vanjaar berig oor Annelize, wat op 14 September 2022 ‘n rugoperasie in die Thelle Mogoerane-streekshospitaal in Boksburg gekry het om drukking op haar rugmurg te verlig. Sy het kort daarna ‘n bakteriële infeksie opgedoen, wat nie met antibiotika onderdruk kon word nie. Septisemie het gevolg en sy het vier maande lank teen die toestand geveg totdat sy dit uiteindelik danksy private mediese sorg onder die knie begin kry het. Die infeksie het ongelukkig onlangs hervat en Annelize veg van vooraf teen die weerstandige bakterie.

Terwyl sy en haar familie reeds harde bene kou om haar mediese rekening van sowat R40 000 af te betaal, het hulle nou die bykomende koste van die nuwe antibiotika, wat sowat R14 400 per maand uitwerk. Buiten die bekommernis oor Annelize se toestand het sy en haar familie nou ook die kommer oor dié bedrag wat per maand betaal moet word. Hierdie antibiotika is ‘n laaste uitweg vir Annelize. As sy dit nie kan kry nie of as dit nie resultate oplewer nie, is sy op haar eie want daar is geen verdere medikasie wat sy nog kan probeer teen die “super bugs” wat haar liggaam verniel nie.

Haar familie en vriende is besig met verskeie insamelingspogings om vir haar mediese uitgawes te help betaal. Een daarvan is ‘n wedstryd waarin ‘n naweekwegbreek gewen kan word. Mense wat kaartjies teen R150 vir die trekking wil koop en Annelize op dié manier geldelik wil ondersteun of wat net ‘n algemene bydrae wil maak, kan Annelize se ma, mev. Alida Lottering by 082 811 5301 WhatsApp vir meer besonderhede.

“Moet asseblief nie ophou om vir my kind te bid nie,” vra Annelize se ma.

Foto onder – Annelize voordat sy haar rugoperasie gekry en baie siek geword het weens septisemie.

Lees ‘n vorige berig oor Annelize se toestand by hierdie skakel: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/153994/diep-dankbaar-oor-hulp-uit-baie-werelddele/

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button