Plaaslike VLU se goeie oesjaar
Knapgedaan aan die Alpha Tak van die Vrystaat Vroue Landbou-unie
VANDERBIJLPARK. – Die Vrystaat Vroue Landbou-unie se Alpha-tak het weer skoonskip gemaak by die area konferensie.
Die konferensie is 22 Februarie in Kroonstad gehou. Die Alpha-tak is deel van Area 1 en bestaan uit Sasolburg, Edenville, Koppies, Holfontein, Parys, Kroonstad en Steynsrus.
Die tak se talentvolle dames het die eerste plek verower en vyf van die sewe trofeë op die spel ingeoes.
Die tak se voorsitter, Rina de Klerk het eerste plekke behaal vir haar breiwerk, gebak en gepreserveerde appel jellie. Tersia van der Walt het met die kunstrofee weggestap.
Rina sê sy is trots op die tak se twee beginners. Suzette du Toit het ‘n eerste plek in die beginner-afdeling vir preservering gekry, terwyl Chrizanne van Eeden ‘n eerste plek met haar breiwerk behaal het.
Die dames berei nou voor vir die Vrystaat Vroue Landbou-unie se provinsiale konferensie wat 6 en 7 September in Bloemfontein sal plaasvind.
Rina sê hul tak woeker met hul talente en geniet dit om mekaar te help met die verskillende projekte wat deur die jaar aangepak word.
Hulle kry ook gereeld sprekers om hul by hul byeenkomste toe te spreek oor alles en nog wat.
“Dis hartseer dat soveel van die handwerk kunste verlore gaan. By die VLU hou ons alles van bakwerk tot naaldwerk, borduurwerk tot hekel, brei, kuns en fotografie lewendig.”
Die Alpha Tak vergader elke tweede Dinsdag van die maand om 09:00 by die Palms Aftreeoord se saal. Kontak gerus vir Rina by 083 307 3066 vir meer inligting.
