News

Nuwe begin vir oud-satanis

Ná bykans 14 jaar agter tralies is Craig Thomas op parool en besig om sy lewe in Risiville te herbou.

VEREENIGING – ’n Oud-Satanis wat 13 jaar en agt maande vir die moord op die leier van ’n Satanistiese groep agter tralies deurgebring het, het ‘n nuwe blaai omgeslaan en bou nou steen vir steen ’n nuwe lewe in die Vaaldriehoek.

Craig Thomas is sowat twee maande gelede op parool vrygelaat en woon nou by ’n plaaslike egpaar in Risiville wat hom onder hul vlerk geneem het.

Craig Thomas gesels oor sy dae as hoëpriester van Satanistiese orde. Foto: Christiaan Cloete

Thomas vertel dat hy in 2013 betrokke was by die moord op ’n man wat hy as die leier van ’n Satanistiese groep in Johannesburg beskryf en na wie hy in sy boek as Pontifex Charles verwys.

Volgens Craig se boek wou Pontifex Charles sy dogter as ’n rituele offer gebruik om hom vir sy ongehoorsaamheid te straf.

Craig het egter nie alleen opgetree nie. Hy vertel dat hy ’n man, wat in die boek Jean genoem word, gewerf het en dat dié man Charles op sy instruksie met ’n ysterstaaf doodgeslaan het.

Craig Thomas tydens sy dae as satanis.

Sy gevangenisjare het hom van Boksburg na Groenpunt, terug na Boksburg en later na Heidelberg geneem.

Dit was agter tralies waar hy aan ’n manuskrip begin werk het. Die boek, aanvanklik getiteld Bloodbound, is later herskryf as Blood Covenant.

Hy skryf onder die naam C.R. Thomas. Daarin vertel Thomas hoe sy verslawing aan metamfetamien en ontrouheid hom sy werk as paramedikus en sy huwelik gekos het.

Die omslag van Craig Thomas se boek Blood Covenant.

Volgens sy weergawe het ’n man hom op dié laagtepunt met dwelms, vriendskap en die belofte van ’n beter lewe genader en aan ’n Satanistiese groep voorgestel.

Sy behoefte aan aanvaarding en die hoop om sy gesin terug te wen, het hom volgens hom verder by die groep ingetrek.

Die boek vertel ook van manipulasie, geweld en sy terugkeer na die Christelike geloof.

Hy skryf ook oor okkultiese rituele en bonatuurlike dinge wat hy sê hy ervaar het.

Die tatoeermerke op Craig se arm spreek boekdele oor sy verlede in die okkulte. Foto: Christiaan Cloete

Volgens die inleidende nota is name en identifiserende besonderhede verander, sommige karakters saamgestel en die tydsverloop gerekonstrueer.

Sy ander boek, The Enemy Has Gone Digital, fokus op ouers en kinders se aanlyn lewens.

Thomas waarsku daarin teen manipulasie wat kinders se eensaamheid en behoefte aan aanvaarding uitbuit.

Hy moedig ouers aan om vertroue te bou, kalm gesprekke te voer en belangstelling in hul kinders se digitale wêreld te toon.

Hy beklemtoon ook dat donker klere, swaar musiek en belangstelling in fantasie nie op sigself bewys van okkultiese betrokkenheid is nie.

Noudat Craig weer terug is in die samelewing wil hy sy ervarings in waarskuwings vir ander omskep terwyl hy self aan ’n nuwe hoofstuk begin.

*Blood Covenant is onder sy skrywersnaam, C.R. Thomas, op Amazon beskikbaar.

Craig saam met Amelia Hamilton wat hom onder die vlerk geneem het en hom help om weer op die been te kom. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button