Verdagte verander glo voorkoms na moord op 67-jarige
Een van die verdagtes in die opspraakwekkende moordsaak van Christine Charlotte Fenn het glo haar hare gesny en haar voorkoms verander nadat Fenn vermoor is.
*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (Woensdag 15 Maart 2023) verskyn.
VEREENIGING. – Die lyk van die 67-jarige Charlotte Christine Fenn is Maandag, 6 Februarie in bosse langs die spoorlyn by Redan gevind nadat sy vermis geraak en haar uitgebrande bakkie op ‘n plaas naby Sasolburg gevind is.
Fenn het skietwonde aan haar kop gehad. Fenn se seun, Grant du Toit (46), sowel as twee van haar huurders, Quintin Edgar (52), en Lindsay Kirton (31) staan nou tereg op aanklagte van moord, ontvoering, menseroof, motordiefstal en opsetlike saakbeskadiging.
Du Toit is verlede week op borgtog van R2 000 vrygelaat nadat die staat toegegee het die enigste bewyse wat daar in hierdie stadium teen Du Toit is, is bloed wat op sy hemp en skoene gevind is.
Die kledingstukke is blykbaar in ‘n wasgoedmandjie in Du Toit se kamer gevind en volgens ‘n verklaring van die ondersoekbeampte was die klere vol gras, modder en bloed.
Daar was ook krapmerke aan Du Toit se arms.
Die kledingstukke is vir forensiese en DNS-toetse gestuur maar in hierdie stadium is daar nie afdoende bewyse dat dit wel Fenn se bloed is nie.

Edgar en Kirton het intussen hul borgaansoeke laat vaar en bly steeds in aanhouding.
Volgens ‘n verklaring van die ondersoekbeampte het die polisie ‘n winkelstrokie in die oorledene se sak gevind toe haar liggaam by Redan gevind is waarop daar inligting was oor wat sy gekoop het en wanneer.
Die ondersoekbeampte is 9 Februarie met dié inligting na Checkers in Arcon Park waar hy geslotekringtelevisie-beelmateriaal aangevra het van die tyd wat die transaksie (op die strokie) plaasgevind het.
Die beeldmateriaal wys glo dat die oorledene en Kirton op die dag van haar verdwyning (2 Ferbuarie) langs mekaar in die winkel staan en dan na die tyd die winkel verlaat.
Op die video het Kirton lang hare en dra sy ‘n sonbril met ‘n swart raam.
Die ondersoekbeampte noem in sy verklaring dat Kirton se hare korter gesny is toe sy later in hegtenis geneem is.
Op beeldmateriaal in die parkeerterrein sien mens hoe die oorledene en Kirton in Fenn se Kia bakkie klim.
Fenn bestuur die voertuig, met Kirton in die passasiersitplek.

Die bakkie verlaat die parkeerterrein en draai links in die rigting van die R59-snelweg. Beeldmateriaal wat op dieselfde dag geneem is wys hoe Fenn se KIA-bakkie en ‘n Opel Kadett wat aan Edgar behoort, omstreeks 16:14 weer by die winkelsentrum se parkeerterrein opdaag.
Edgar klim dan uit die oorledene se KIA, stap die winkelsentrum binne en kom later terug met ‘n sak en ‘n houer.
Hy giet dan die inhoud van die houer uit. Later kan mens sien hoe die Opel Kadett na die nabygeleë vulstasie ry waar die beskuldigde die petroljoggie vra om die leë houer vol petrol te maak.
Altesaam R110 se petrol is ingegooi. Die Opel Kadett ry dan weer terug na waar die KIA geparkeer is.
Dan sien mens hoe Edgar die parkeeterrein in die oorledene se bakkie verlaat, met Kirton wat hom dan in die Opel Kadett agtervolg.
Fenn, wat tuindienste aan mense van die Vaaldriehoek gelewer het, is die laaste keer op 2 Februarie omstreeks 12:15 lewend gesien toe sy werkers by ‘n kliënt afgelaai het en toe weer vertrek het.
Die kliënt het later die dag verskeie kere vir Du Toit probeer bel.
‘n Ondersoek het getoon dat sy foon af was. Du Toit het omstreeks 17:16 die werkers kom oplaai nadat die kliënt hom uiteindelik in die hande gekry het. Fenn is later deur haar kleinkinders as vermis aangemeld.

