Elke dooprok ‘n handgemaakte kunswerk
Ontmoet die skepper van die mooiste dooprokkies, Wilna Lambrechts
VANDERBIJLPARK. – Fyn kant, handgemaakte blomme, lint en satyn. Van die skoentjies tot by die kopbande is elke uitrusting wat Wilna Lambrechts maak ‘n unieke kunswerk.

Wilna was vir jare deel van die korporatiewe wêreld. In daardie tyd het sy die meeste van haar klere self gemaak.
“Ek was nog altyd lief vir materiale. Wanneer ‘n stuk materiaal my aandag trek, dan weet ek klaar wat ek daarmee gaan maak,” vertel sy.
Sy het nooit daaraan gedink om dooprokkies te maak nie, totdat haar eerste kleindogter gedoop moes word.

Die rokkie het soveel aandag getrek dat mense haar begin vra het om vir hul babas spesiale uitrustings vir hul doop of inseën geleenthede te maak.
Sowat 10 jaar gelede het sy Le Petit Afrique op Facebook begin en die bestellings het van oral oor begin instroom.
Later het mense ook begin vra vir blommemeisierokke en Wilna het haar verbeelding vrye teuls gegee.

Kunstig was sy nog altyd en geniet dit ook om te skilder. Dis wanneer sy die fyn materiale omtower in skeppinge waarin elke baba soos ‘n prinses lyk wat sy op haar gelukkigste is.
Die Lambrechts woon op ‘n plaas buite Vanderbijlpark en Wilna sê die sonsondergange is vir haar die mooiste mooi.

“Dis lekker rustig, maar ek moes ook leer om goed te doen waarvan ek voorheen geen kennis gedra het nie.”
So het sy al bygestaan wanneer ‘n skaap geboorte gee en is daar nou al ‘n hele paar hanslammers op die werf.
“Hulle is ook maar stout. Net om uit die erf te kom is ‘n hele gedoente, want as my man nie hul aandag aftrek met kos nie, hardloop hul agter my motor aan,” lag sy.
Haar kinders en kleinkinders lê haar na aan die hart en sy het al ure by perde sport geleenthede spandeer om haar kleindogter, Kriske te sien presteer.

Wilna sien die lewe deur ‘n kunstenaarsoog, maar met haar jare se ervaring in die versekeringswêreld is haar voete geplant in realiteit.
Sy het ‘n kop vir besigheid en dit dra by dat haar feetjiemooi uitrustings alle uithoeke van Suid-Afrika bereik.
