Midvaal sal inwoners se veiligheid tydens protesoptrede beskerm
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit sê veiligheidsbeamptes werk saam met die Suid-Afrikaanse sekuriteitsgroepering en die GPF-strukture binne die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en planne is in plek om Maandag (20 Maart 2023) die veiligheid van inwoners, besighede, publieke instellings en paaie te verseker.

MIDVAAL. – Die uitvoerende burgemeester, rdh. Peter Teixeira, het verlede week in ‘n verklaring die publiek en sakeondernemings gerus gestel dat dienslewering soos normaal sal voortgaan.
Die EFF wil Suid-Afrika more tot stillstand ruk tydens hul beplande landwye “shutdown”.
Die EFF eis onder meer die bedanking van die land se president, Cyril Ramaphosa, en ’n einde aan beurtkrag.
“Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit ontmoedig enige onwettige protesoptrede binne die munisipaliteit se grense en vra dat die wet op die dag gehoorsaam word,” het Teixeira in ‘n verklaring gevra.
“Die Midvaal Plaaslike Munsipaliteit wil graag sy nul-verdraagsaamheid ten opsigte van onwettige protesaksies benadruk en sal toepaslik optree met die hulp van die Suid-Afrikaanse sekuriteitsgroepering waar nodig,” sê Teixeira.
Inwoners van Midvaal kan onwettige aktiwiteite by die munisipaliteit se beheerkamer rapporteer deur (016) 360 7500 te skakel.
