Anandie van HS Driehoek kry haar agtste A!
Sy het aanvanklik 7 A's in die 2022 matriekeksamen behaal en het pas die goeie nuus ontvang dat sy na die hermerk ook 'n onderskeiding in haar agtste vak verwef het!
VANDERBIJLPARK. – Anandie la Grange, wat in 2022 ‘n uitblinker-matrikulant van die Hoërskool Driehoek was, kan nou agt onderskeidings agter haar naam skryf.
Sy het haar matriek verlede jaar met onderskeidings in sewe van haar vakke, naamlik Engels Eerste Addisionele Taal, Lewensoriëntering, Wiskunde, Rekeningkunde, Besigheidstudies, Fisiese Wetenskappe en Rekenaartoepassingstegnologie geslaag. Vir haar agtste vak, Afrikaans, het sy 79% behaal en haar antwoordstel laat hernasien.
Sy het verlede week die goeie nuus ontvang dat sy na die hermerk ook ‘n onderskeiding in dié vak behaal het.
Anandie het reeds met haar studies in ‘n rekeningkundige rigting aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus begin en beoog om haar as ‘n geoktrooieerde rekenmeester te bekwaam.
Anandie se agt A’s maak haar die Hoërskool Driehoek se matrikulant wat die meeste A’s in die 2022-matriekeksamen behaal het.

Lees ook die vorige berig oor Anandie wat kort na die matriekuitslae in Vaalweekblad verskyn het:
Anandie se sewe A’s word dalk agt!
VANDERBIJLPARK. – Met haar georganiseerde aard en toewyding kon Anandie la Grange daarin slaag om eksamenvrees in eksamenvreugde te verander – en die vrugte is soet! Dié uitblinker van Hoërskool Driehoek het sewe A’s op haar kerfstok en het haar agtste onderskeiding net-net gemis.
Anandie het onderskeidings in Engels Eerste Addisionele Taal, Lewensoriëntering, Wiskunde, Rekeningkunde, Besigheidstudies, Fisiese Wetenskappe en Rekenaartoepassingstegnologie behaal. Sy het ‘n hoë B in Afrikaans verwerf en beplan om haar antwoordstel te laat hermerk in die hoop dat dit ook in ‘n A omskep gaan word.
Anandie beskryf haarself as ‘n georganiseerde linkerbreinmens wat met behulp van breinkaarte studeer het om komplekse konsepte te verbind en leerwerk sodoende makliker te kon memoriseer.
Dié oudste dogter van Jaco en Sonica la Grange, onderskeidelik werknemers van die Vaal Universiteit van Tegnologie en van Sasol, het ‘n natuurlike aanleg vir syfers. Rekeningkunde was haar gunstelingvak. Dit is dus geen verrassing dat sy vir ‘n geoktrooieerde rekenmeester aan die Noordwes-Universiteit wil gaan leer nie.
Hoewel haar agt skoolvakke baie aandag en harde werk vereis het, het sy ook tyd gemaak vir sport. Sy het vir haar skool se eerstespan hokkie gespeel en ook in die leerlingraad gedien. In haar vrye tyd hou sy haar graag besig met boeklees en fotografie.
Noudat haar skooldae verby is, sien sy baie uit na die volgende fase van haar lewe. Haar suksesse en aangename herinneringe saam met haar skoolmaats is vir haar ‘n inspirasie wat sy op haar lewenspad saamneem.
“Hier is ‘n toekoms in Suid-Afrika. Die nuwe generasie kan ‘n groot bydrae maak om die land ‘n beter plek te maak,” sê sy.
