“EFF ‘shutdown’”: Slegs twee insidente in Midvaal
Daar was Maandag (20 Maart 2023) tydens die EFF se nasionale 'shutdown' slegs twee insidente in die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en albei insidente is gou onder beheer gebring.
MEYERTON. – Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het inwoners verlede week verseker dat planne in plek is om die veiligheid van inwoners, besighede, publieke instellings en paaie tydens die landwye protesoptrede te verseker en daardie belofte is gestand gedoen.
Volgens Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir paaie en nooddienste, Gerrit Viljoen, was daar vroeg Maandagoggend slegs twee insidente wat dadelik aandag gekry het.
Volgens Viljoen het betogers omstreeks 00:45 in die oggend bande op die R59 buite Sicelo gestapel en aan die brand gesteek. Die betogers is verwilder en die eerste brand is deur die Midvaal-brandweer doodgespuit.
Tydens ‘n tweede voorval omstreeks 01:20 het betogers bande op mekaar gestapel op die hoek van Johan le Rouxweg en Gourleystraat. Dié brand is deur die brandbeskermingspan geblus.
Partolleerders het Maandagaand ook ‘n gepatrolleer maar geen ander voorvalle is aangemeld nie.
Volgens Viljoen het patrollerders ook beslag gelê op heelwat bande wat langs paaie gestapel is.
Viljoen het Dinsdag (21 Maart 2023) die gemeenskap en patrolleerders bedank vir hul goeie werk.
“Flinke optrede deur al ons manne en vroue in blou het dit onmoontlik gemaak vir enige onwettige aksie. Veiligheid en Sekuriteit van ons gemeenskap is een van die prioriteite,” sê hy.




