Local newsNews

As Midvaal ‘n fliek was, was dit ‘n lokettreffer!

Raadsheer Phil C. Pretorius, Hoofsweep van die Midvaal Munisipaliteit, gee sy mening in hierdie week se Hoofsweep Rapport

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit
Jamie Lee Curtis in haar aanvaardingsrede by die 95ste Oscar Prysuitdelings vir die filmindustrie noem heldhaftig dat sy deel van honderde is wat die toekenning vir die rol aanvaar. Sy noem dat dit ‘n spanpoging is, soos talle voor haar al genoem het, maar met ‘n unieke nuwe aanslag. Dit weerklink in die woorde van Maya Angelou wat gesê het: “I come as one, but stand as ten thousand!”

So staan ek as hoofsweep, die burgemeester en mede-raadslede as enkelinge op en trek dan saam om Midvaal se skamele 110 000 inwoners te verteenwoordig. Soms meer. Soms die Vaal, Gauteng en soms selfs Suid-Afrika. As raadslede tree ons nie op TEENOOR die inwoners nie maar in belang van die inwoners, nie in OPPOSISIE tot die gemeenskap nie maar as voorloper vir die gemeenskap, nie as FILMSTER met ‘n Oscar nie maar eerder as die produksiespan met ‘n BLOCKBUSTER lokkettreffer.

Soos enige goeie organisasie moet daar iemand aan die stuur wees. Die film-ateljee wat alles beheer, stel ‘n vervaardiger aan wat weer ‘n regisseur aanstel om die produksie te voltooi. Die produksiespan moet die kameras beheer, beligting, klank, redigering, bemarking, finansiering, rolverdeling, draaiboekontwikkleing, ens. Musiek moet gekomponeer word, akteurs moet ingeoefen word en verfilm word, kostuums, grimering, rekwisiete, verversings, vervoer, spesiale effekte, en al die oulike naampies wat 10 minute lank rol aan die einde van ‘n film. Wanneer al hierdie funksies in plek val en die talente is eg en opreg, het jy ‘n treffer. Maar dit is hoekom Jamie Lee dit opdra aan die honderde mense agter die skerms. Dit is ‘n groter poging as net haar eie.

Midvaal bestaan nie net uit die burgemeester en raadslede nie. Die munisipale bestuurder doen die regie, en word ondersteun deur departemente, portfolio’s en afdelings. Die uitvoerende direkteure en departementshoofde is net so sterk soos hul seniors, klerke en juniors.
As raadslede staan ons in wyke, met duisende inwoners agter ons. Ons verteenwoordig julle, is deel van julle en bly tussen julle. Ons maak staat op julle ondersteuning en hulp.

Daar is altyd die uitsonderings maar uit ondervinding in Midvaal kan ek getuig dat ons DA-raadslede die posisies beklee om ons samelewing te dien. Die salarisse vir publieke verteenwoordigers in klein munisipaliteite soos Midvaal kan geen raadslid ryk maak nie en dit verskil drasties van groter munisipaliteite soos Emfuleni en Metro’s rondom ons. In talle gevalle gebruik raadslede meer van hul privaatfondse in hul wyke vir projekte en hulp as wat hulle verdien deur ‘n raadslid te wees. Ons raadslede veg vir jul paaie, ligte, parke, ontwikkeling en staan op teen dié wat julle as inwoners wil indoen. Ons doen dit want ons IS een van julle en julle IS ons.

So, wanneer Midvaal die prys wen vir BESTE MUNISIPALITEIT IN SA en NEGENDE AGTEREENVOLGENDE SKOON OUDIT en talle ander toekennings, is dit miskien die regisseur wat die toekenning op die verhoog gaan ontvang, maar hy/sy doen dit namens al 110 000 Midvaal-inwoners… want ons is TROTS MIDVAAL.

Midvaalgroete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button