Local newsNewsNews

Rina de Klerk – VLU voorslag met ‘n hart van goud

Maak nader kennis met Rina de Klerk. Sy is al vir 52 jaar deel van die Vroue Landbou-unie.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Ware voorslag, ‘n vasvat vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Die een op wie se knoppie gedruk word as iets georganiseer moet word.

Die een wat inwoners van die Palms Aftreeoord in die middel van die nag skakel as hul hulp benodig. Dis mev. Rina de Klerk.

Rina is een van die min vroue wat met ‘n 50-jaar lede balkie van die VLU kan spog.

Sy is wyd bekend in Vroue Landbou-unie kringe, want sy is een van die min lede wat met ‘n 50 jaar balkie as lid van die VLU kan spog.

Hierdie jaar is haar 52ste jaar. Tans is sy voorsitter van die Alpha Tak van Area 1 van die Vrystaat VLU.

Die afgelope vyf dekades was sy by verskeie VLU-takke betrokke. Haar oorlede man, Andre was bankbestuurder en vanweë sy werk is hy kort-kort verplaas.

“Ek dink ons het 15 keer getrek,” vertel sy. “Dit was nie altyd maklik nie. Soms is hy al verplaas en dan moes ek die trek alleen hanteer.

“Maar, dit was ook lekker dae. Ons het menigmaal op plattelandse dorpe gebly en daar was altyd ‘n VLU. Ek het geleer om vinnig nuwe vriende te maak en in te skakel.”

Die ergste was toe sy met ‘n aggressiewe kanker gediagnoseer is. Haar man was toe reeds in Randfontein en sy en die kinders nog in Welkom.

Hul seun, Jaco was toe in die Weermag. “Ek onthou hoe ek met ‘n drip en al Bloemfontein toe is toe Jaco bevordering in die Weermag gekry het. Ek kon dit darem nie mis nie.”

Rina het in Vaalharts grootgeword, maar êrens in hul omswerwinge het die Vaaldriehoek nesgeskop in haar hart.

In die 80’s was Andre vir ‘n tyd lank bankbestuurder van Standerd Bank in Vanderbijlpark en later ook Vereeniging.

Met sy aftrede het hul vir vyf jaar in Kleinmond gaan bly. “Die see was naby, maar die kinders te ver en die noordewind het my skoon bang gewaai. Ons het toe in Parys gaan bly.”

Tydens hul agt jaar verblyf in Parys het Rina ‘n beroerte gehad en daarna het hul besluit om hul nader aan die kinders in Vanderbijlpark te vestig.

Sewe maande later is Andre ongelukkig oorlede. Dit was vyf jaar gelede.

“Drie maande na Andre se afsterwe is ek as voorsitter van die Alpha Tak verkies en ook op die Palms Afreeoord se bestuurraad. Om besig te bly het my deur daardie moeilike tyd gedra,” sê sy.

Vir Rina is die dae te kort, want daar is altyd hope goed wat sy wil doen. “Kom ek buite, sien ek al die werk in die tuin wat my aandag vereis en binne is hier ook altyd ‘n projek of drie wat moet klaar.”

Rina (derde van regs) saam met die lede van die Alpha Tak na hul eerste plek verower het by die Area 1 Vrystaat VLU konferensie in Februarie.

Naas haar kinders en kleinkinders, lê die VLU haar die naaste aan die hart.

“Ek het al voor my troue in 1970 by hul aangesluit. Op daardie stadium het ek geweet ons gaan weens Andre se werk baie trek en op klein dorpies bly. Ek het gereken dit sal die beste manier wees om te kon inskakel.”

Die VLU het veel meer net as vriende op haar pad gebring. “Ek het so baie lewenslesse geleer en sal altyd dankbaar wees vir alles wat ek deur die VLU gedoen het en steeds kan doen.”

Sy benader alles in haar lewe met die VLU-standaard in gedagtes. Die dat sy verkies om self haar klere te maak, kos te kook en lekkernye te bak.

“Weet jy, ek leer nog steeds. Daar is altyd ‘n nuwe ding wat ons by die VLU aanpak en dis vir my lekker.”

Rina geniet dit ook om haar jare se ervaring met alles van naaldwerk tot fyngebak met nuwelinge te deel.

Sy glo aan besig bly en raak gefrustreerd met mense wat niks doen nie. Haar 75 somers ten spyt, is sy volstoom aan die gang.

Sy kook elke middag vir haar kookkos vir middagete om 13:00. Net soos wat sy al die jare vir haar man en kinders gedoen het.

Haar twee kleinseuns en vier kleindogters is haar trots en oor hul prestasies kan sy nie uitgepraat raak nie.

Rina het juis toe haar kleindogter, Anke in matriek was haar eendag uitgehelp. “Sy het my geskakel en gevra: “Ouma ons moet bobotie maak vir ons prakties. Het Ouma nie vir my iets anders as die gewone resep nie?”

“Kyk, toe betrek ek al my resepteboeke en kry vir haar ‘n wenner. Sy het baie goed gevaar en die juffrou was beïndruk. Ek het toe al geweet sy het talent.

“‘n Mens kan die beste resep in die wêreld hê, maar as jy nie daardie natuurlike aanvoeling het nie, dan gaan dit nie reg uitwerk nie.”

Met haar jare se ondervinding en lewenswysheid bly Rina ‘n steunpilaar vir haar familie, vriende en bure.

Al wil sy soms ook alleen wees, gee sy nie om om wat sy het met haar mense te deel nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button