Waterplan vier 30ste bestaanjaar met dankbare harte
Hul produkte en dienste is gerig op alles wat te doen het met boorgate, swembaddens, besproeiing, loodgieterswerk, watersuiwering, waterfilters en ook LPG-gas.
SASOLBURG. – Waterplan Pompe en Besproeiing is in die vroeë 1990’s begin deur August Weilbach en sy vrou Hannalie, wat steeds betrokke is by die bestuur van dié familiesaak. Hulle word ondersteun deur hul seun August jr. en skoonseun Wimpie Coetzer, wat steeds die stigtingswaardes van die onderneming nastreef.
Aanvanklik was die klem op die installasie van besproeiingstelsel maar daar is ook gou ‘n klein winkeltjie oopgemaak om instapkliënte te bedien. Dit het van ‘n beskeie perseel van 100 m2 begin groei. Die huidige perseel is aangekoop en daar is gebou, net om dit vier jaar later verder te vergroot tot die huidige indrukwekkende grootte.
Dit is duidelik dat Waterplan veel meer as net ‘n normale inkomstebron vir die Weilbach-familie is. Hul lewensbeskouing van diep geloof, integriteit en toegewyde dienslewering word duidelik in die besigheid weerspieël.
Die familielede wat Waterplan se wiele saam met hul personeel aan die rol hou, vertel self:
Hierdie is nie ons besigheid nie, ons is slegs die rentmeester daarvan. God se genade het ons tot hier gebring en ons probeer om Hom te eer in alles wat ons hier doen. Ons weet ook dat ons nie los staan van ons gemeenskap nie, daarom is ons betrokke by verskeie welsynsorganisasies en skoolprojekte.
Ons personeel is ons grootste bate: Van hulle is al 15 tot 20 jaar met ons. Ons probeer om ‘n vriendelike en gesellige atmosfeer te skep waar kliënte gemaklik en soos vriende voel. Hulle ontvang eerlike, opregte en doelgerigte raad wat spruit uit persoonlike ondervinding met die installasie van pompe, besproeiing en loodgieterswerk. Meeste van die personeel het dan ook kursusse in pompseleksie, mikro- en drupbesproeiing sowel as tuinuitleg gedoen.
Ons het ’n wye reeks bekende produkte wat gerugsteun word deur vervaardigers se waarborge. Ons produkte is vir Jan Alleman, die kontrakteur en ook die nywerhede. Ons produkte is gerig op alles wat water betref: Boorgate, swembaddens, besproeiing, loodgieterswerk, watersuiwering, waterfilters en ook LPG-gas.
Sedert 2022 is die installasie-afdeling oorgedra aan ons voormalige personeel wat tans die installasie van pompe en besproeiingstelsels behartig as ’n onafhanklike maatskappy onder mentorskap. Ons is steeds meer as gewillig om kliënte wat ’n plan inbring, te help met die korrekte uitleg vir hul besproeiing.
Met die huidige kragkrisis en watertekorte wat in verkeie dorpe ondervind word, is daar van ons stelsels en produkte wat wyd en syd diens doen. Ons “Parys Combo” is juis een van die gewildste stelsels in die voorsiening van water in tye van nood. Pompe wat doelgerig gemaak is vir sonkragstelsels groei in gewildheid en is verbasend klein en stil, ideaal as die stelsel naby die huis of slaapkamer is.
Behalwe vir genade van Bo is ons kliënte die rede waarom ons deure na 30 jaar nog oop is. Deur die moeilike tye soos resessies, Covid en die huidige ekonomiese klimaat waar almal maar die knyp voel, bly hulle ons ondersteun en ons kan nie genoeg dankie sê hiervoor nie.
Ons hoop is dat ons kan voortbou op die verlede en in die toekoms steeds ons gemeenskap en kliënte kan dien met voortreflike diens, en dat hulle ons besigheid sal verlaat met ‘n glimlag en ‘n gevoel van tevredenheid – dit is immers waarna ons streef.
* Besoek Waterplan Pompe en Besproeiing in William Stowstraat 16, Sasolburg, of kontak Waterplan by (016) 973 1279 of (016) 973 1205 vir kundige raad.



Waterplan Pompe en Besproeiing lewer al 30 jaar uitmuntende diens aan nywerhede en individue van die Vaaldriehoek. Voor van links is Wimpie Coetzer, August en Hannalie Weilbach en hul seun August Weilbach (jr.) saam met hul personeel voor hul gebou in William Stowstraat 16, Sasolburg. Foto: Beenke Douwenga van Mardo Fotos.
