Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Waar die Vaalweekblad redaksiespan is, gebeur daar altyd iets. Lees meer...

RUBRIEK. – Jare gelede het ek ‘n ‘movie’ gekyk met die naam, The Sisterhood of the Traveling Pants. Vier vriendinne en een denim wat om een of ander rede al vier perfek gepas het.

Nog nooit geglo dis moontlik nie, tot verlede week Dinsdag. Kyk, Dinsdae gebeur daar mos altyd iets, want dan is dit koerant saktyd.

Dit is behalwe hierdie week, want dié week  het die koerant Maandag gesak, omdat Dinsdag ‘n vakansiedag was. Maar dit nou daar gelaat…

Kry ons mos verlede week hier op nommer 99 die boodskap die redaksiespan moet Dinsdag rooi hemde aanhê vir individuele foto’s.

Ons foto’s gaan blykbaar op die webtuiste kom. Allegeval, ref ek toe dadelik in rooipaniek, want ek het nie ‘n rooi hemp nie en vriendin se kas lewer net roesbruin op.

Ek ryg die kabel deur die gat en Anneline kruip onder die tafel rond.

Laat weet Elsje ek moet asemhaal, sy’t vir my ‘n rooi hemp. Slaan ek toe Dinsdagoggend vroeg by die kantoor uit en Elsje ruk dadelik ‘n rooie uit die sak.

Ek gaan pas aan en hou dit sommer aan dat sy solank die foto kan neem. Ons raak besig agter die rekenaars met die Vaalweekblad in wording terwyl sy kort-kort opspring om iemand wat die kantoor inkom af te neem.

Van die ander afdelings lyk toe alte fraai in grys en dies meer. Storm Christiaan op ‘n stadium die kantoor binne. Met ‘n grys hemp.

“Nee,” seg Elsje, “jy moet ‘n rooie aanhê. Gerda, gee vir Christiaan die rooie.

“Die een wat sy aanhet?” vra hy benoud. ‘n Mens sou sweer ek was van plan om die hemp net daar uit te pluk en vir hom te gee.

“Ontspan, myne is in die laai,” seg ek en gaan ruil hemde in die badkamer.

Christiaan pluk die rooi hemp bo-oor sy gryse aan. Andersins sou die hemp geheel te groot wees vir hom.

Hy gaan staan, ek bedoel buk, vir sy foto. Hy is ‘n bietjie aan die lang kant. Rooi hemp land weer in Elsje se sak.

Dit is tot Sifiso ook met geheel die verkeerde kleur hemp aan inkom. “Gaan trek aan,” deel Elsje opdragte uit en daar gaat Sifiso om die beroemde rooie aan sy lyf te kry.

Wel, ten minste gaan ons nou wraggies soos ‘n span op die foto’s lyk! Ettienne het darem sy eie rooi hemp aangehad en blykbaar het Elsje ‘n hele kas vol rooi, want so was sy ook die heeldag in rooi geklee.

Nog was dit einde niet op die dag se aktiwiteite. So ‘n paar weke gelede het ek my lot bekla in die einste rubiek omdat ek handeviervoet onder die tafel moet in elke keer as ek my laptop se prop moet in of uitprop.

My klaagliedere het nie op dowe ore geval nie. Anneline het haar oor my ontferm en Dinsdag bring sy vir my ‘n splinternuwe kragkabel wat al die pad van die muurprop tot bo-op my tafel strek.

Ek was so bly toe ek die koord sien, ek wou dadelik vir oulaas onder die tafel in.

“Nee wag,” skud sy kop. “Ek sal. Het die tafel ‘n gat?” vra sy terwyl sy na benede duik.

Ek loer. “Ja, hier is ‘n sirkel oopgesny.”

“Sit die prop daardeur, ek kry dit hier onder,” kom dit van benede, terwyl Elsje al weer met haar kamera regstaan.

Binne minute kon ek my laptop sommer so op die tafel inprop en kon Anneline weer onder die tafel uitkom.

Weet ook nou nie of dit nodig was dat Elsje weer foto’s neem nie, maar ja, eenmaal ‘n fotograaf, altyd ‘n fotograaf.

Ek is net dankbaar my oorgeërfde Ouma Bessie rumatiek knieë word nou gespaar. Dankie Anneline!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button