Nick (89) verloor sy nooi en beste maat van die afgelope 74 jaar
Nick Vrettas (89) het onlangs sy vrou van die afgelope 68 jaar aan die dood afgestaan.
*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (22 Maart 2023) verskyn.
VEREENIGING. – “Sy was my eerste en enigste nooi. Ons was onafskeidbaar.”
So vertel Nick Vrettas (89), afgetrede eletrisiën van Vereeniging, wat ná ‘n leeftyd saam met sy vrou, Dalene (86), hom nou skielik alleen in die wêreld bevind nadat sy geliefde vrou in Februarie oorlede is.
Dalene se afsterwe laat ‘n groot leemte in Nick se lewe.

Volgens Nick is Dalene Sondagaand, 19 Februarie omstreeks 23:45 skielik aan ‘n hartaanval oorlede, skaars ‘n paar dae nadat sy 8 Februarie 86 jaar oud geword het.
Nick sê hy sal die aand nooit vergeet nie.
“Die krag was af en die kragopwekker het boonop gaan staan. Ons het in die donker met kerse gesit.”
“Ek het later die aand saam met Dalene na die badkamer geloop. (Sy ly die afgelope paar jaar aan demensie en sukkel om te loop). Terug in die kamer het dit gelyk of sy vooroor leun. Ek het haar van agter af gegryp om te keer dat sy vooroor val,” vertel hy.
Dalene het daardie aand in Nick se arms gesterf.
‘n Nadoodse ondersoek het bevestig dat sy ‘n hartaanval gehad het.

Vir Nick lê die hartseer van sy vrou se afsterwe nog baie vlak.
Hulle ken mekaar al 74 jaar en was immers 68 jaar getroud voor die dood hulle geskei het.
“Dit is nog ‘n bietjie sensitief om daaroor te praat,” sê Nick en veg dan om die trane te keer.
In die sitkamer van hul huis op ‘n kleinhoewe in Van der Merweskroon staan daar nog ‘n ruiker wat tydens die begrafnis aan Nick gegee is.

Die blomme is na ‘n maand al uitgedroog.
Oral teen die mure van hul dubbelverdiepinghuis in Van der Merweskroon hang daar foto’s van Nick, Dalene en hul kinders.
’n Herinnering aan die ryk en vreugdevolle lewe wat hulle saam gehad het.
Die meeste van die bome op die vyf akker eiendom is ook deur Dalene geplant.
Sy was my eerste en enigste nooi. Ons was onafskeidbaar.
Die paartjie het oor die jare verskillende sportsoorte soos gholf, tennis en muurbal beoefen en was welbekend in sportkringe in Vereeniging.
Volgens Nick het hy Dalene 74 jaar gelede by ‘n sportdag in Parys ontmoet waar hy rugby en sy netbal gespeel het. Albei was leerlinge aan die Witwatersrand Tegniese Kollege in Voortrekkerstraat in Vereeniging.
“Sy was ‘n vreeslike aantreklike meisie en ‘n goeie atleet, veral waar dit kom by naellope. Die manne was soos bye om ‘n heuningkoek.
“Ons was op pad terug. Ek het alleen in die bus gesit. Sy was agter in die bus, maar het later opgestaan en langs my kom sit. Ons het heelpad terug met mekaar gesels,” vertel hy.
Dit was die begin van Nick en Dalene se liefdesreis van meer as sewe dekades.
Nick het in 1952 gematrikuleer en Dalene in 1953. Hulle is ‘n paar jaar later getroud.

Uit hul huwelik is drie kinders – Dale (68), Derrick (63) en Laura (55) -, nege kleinkinders en drie agterkleinkinders gebore.
Nick vertel skertsend dat Dalene se pa, ‘n stoere Afrikaner, aanvanklik nie ‘n ‘Engelsman’ in sy huis wou gehad het nie en dat Dalene se ouer susters vir haar ‘n ander kêrel probeer kry het.
Mettertyd het Nick en die ouman egter baie goeie vriende geword, soveel so dat hy Nick later as sy regterhand beskou het.
Wanneer Nick gevra word om Dalene se persoonlikheid te beskryf, vertel hy: “Jy sou vir haar lief gewees het. Sy was aangenaam, sagmoedig en sportief in haar jonger dae. Ek weet nie van iemand wat nie van haar gehou het nie,” vertel hy.
Nick het sy vrou die afgelope paar jaar op hul kleinhoewe in Van der Merweskroon versorg nadat sy demensie ontwikkel het.

