Local newsNews

Vervalle huis is ‘n gevaar vir buurt, kla inwoners

Daklose mense en dwelmgebruikers gebruik die verlate ruïne nou as kuier- en slaapplek.

 

SASOLBURG. – “Die eens pragtige huis in Van Eckstraat 24 is nou ‘n aaklige bouval. Dis ‘n skuilplek vir misdadigers, wat ‘n gevaar vir ons straat se mense en die hele woonbuurt inhou.” Só kla moedelose inwoners van die andersins netjiese omgewing oor die seer-oog waarteen hulle daagliks moet vaskyk.

Die eiendom het jare terug ‘n mooi huis, ‘n goedversorgde tuin en swembad gehuisves. Dit word egter al etlike jare nie meer bewoon nie en het intussen totaal vervalle geraak. Die tuin is heeltemal oorgroei en die grootste deel van die gebou is al afgebreek. Dit wat nog staan, word skynbaar steen-vir-steen weggedra.

Die erf grens aan ‘n tuiste vir bejaardes en talle van die senior burgers stap graag vir oefening deur Van Eckstraat. Dit raak egter ‘n toenemende veiligheidsrisiko omdat daklose mense en dwelmgebruikers die verlate ruïne as kuier- en slaapplek gebruik.
Beswaarde inwoners meen dat verskeie munisipale ordonansies hier oortree word en dat die Metsimaholo-munisipaliteit dringend moet ingryp.

“Munisipale ordonansies of ‘bywette’ soos dit in die volksmond bekendstaan, lê reëls neer ten opsigte van onooglike en verwaarloosde geboue, gesondheidsgevare en veiligheidsrisiko’s, die indringing van vreemdelinge op ‘n eiendom, en die beheer van lasposte. Al dié ordonansies word tans hier verbreek. Dit is die stadsraad se taak om nou beheer te neem en hierdie oortredings te stop,” sê ‘n ontevrede inwoner.

Vaalweekblad het vasgestel dat die huis aan ‘n oud-Sasolburger behoort wat nou in George in die Wes-Kaap woon. Sy identiteit is aan Vaalweekblad bekend maar word weerhou omdat hy tot dusver nie vir kommentaar bereik kon word nie. Nie-amptelik is verneem dat ‘n bekende handelsbank die verbandhouer is en dat die eienaar die eiendom nie wil verkoop nie.
Vaalweekblad het by twee eiendomskenners met jare se ervaring in Sasolburg, Jacques Stoltz en Lize Grobbelaar, navraag gedoen of die eiendom deur die stadsraad teruggeneem kan word en of dit enige herverkoopwaarde in sy huidige toestand sal hê.

Volgens me. Grobbelaar behoort die munisipale gesondheidsinspekteur ‘n huiseienaar amptelik aan te vat as ‘n eiendom gesondheidsrisiko’s inhou, soos wat skynbaar hier die geval is. Die munisipaliteit kan ‘n huiseienaar nie dwing om teen sy sin te verkoop nie, maar ‘n eiendom mag wel deur ‘n stadsraad teruggeneem en op veiling verkoop word as dienstegeld en erfbelasting agterstallig is en nie ingevorder kan word nie.
“‘n Huis in dié toestand staan dan bekend as ‘n ‘gevandaliseerde bouval-eiendom’ en banke is in baie gevalle bereid om ‘n lening aan ‘n nuwe koper beskikbaar te stel,” sê sy.
Mnr. Stoltz stem daarmee saam en voeg by dat dit die huiseienaar se verantwoordelikheid is om seker te maak sy erf is skoon en veilig, al woon hy nie self daar nie. “Dit is die plig van ons raadslede om toe te sien dat die eienaar dit doen,” sê hy.

Albei eiendomskenners meen dat die verwaarloosde huis en erf wel ‘n redelike herverkoopwaarde het. ‘n Nuwe koper sal egter die bouval moet afbreek of restoureer, of die erf kan moontlik gehersoneer word om as ‘n meenthuiskompleks ontwikkel te word. Hersonering kan egter ‘n tydsame en frustrerende proses wees.

DA-raadslid Thulani Mbana, in wie se wyk die bouvallige huis is, het by navraag aan Vaalweekblad gesê hy is besorgd oor die situasie en het dit reeds met die munisipale administrasie opgeneem vir verdere aksie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button