Sweet Pea: ‘n Liefdesverhaal van blomme en feëliggies
Hannes en Yolandie se eie verhaal is inderwaarheid ook 'n liefdesroman van twee mense wat hul perfekte pasmaat gevind het
Sweet Pea Flowers and Decor in Rabiestraat 10, Vanderbijlpark, het die afgelope 17 jaar by groot instansies sowel as die algemene publiek naam gemaak as die nommer een-keuse as jy die allermooiste blomme en -rangskikkings, glas- en silwerware, draperings, kerse, feetjieligte en algemene spysenieringstoerusting benodig.
Wanneer jy Hannes en Yolandi Bornman van Sweet Pea se werkswêreld betree, gaan jy ‘n sprokieslandskap binne waar jy jou kan verbeel jy is in ‘n paradys. Die Bornmans deel ‘n groot liefde vir hul werk: Om asemrowende mooi troues en ander vierings vir hul kliënte moontlik te maak. Hul eie verhaal is inderwaarheid ook ‘n liefdesroman van twee mense met dieselfde belangstellings wat hul perfekte pasmaat gevind het!
Hannes het reeds as skoolseun blomme vir troues en ander geleenthede begin doen om ekstra sakgeld te verdien. Saans het hy kursusse in blommerangskikkings by VUT gedoen, waarheen sy ouers hom moes aanry omdat hy nog nie ‘n lisensie gehad het nie. Naweke het hy by Betsie Terblanche se Tovya Bloemiste in Sasolburg gewerk, waar hy waardevolle ervaring opgedoen het. Na skool het hy aan Unisa studeer en by ‘n ouditeursfirma gaan werk. Dit was by dié firma waar hy sy groot liefde, Yolandi, ontmoet het.
In 2005 is hulle getroud en in 2006 het hulle Sweet Pea Flowers en Décor CC tot stand gebring. Aanvankllik het hulle die blomme as ‘n deeltydse werk gedoen maar in 2009 die sprong gewaag om voltyds in die bedryf in te gaan.
“Die besigheid is van niks af opgebou. Ons het aan die begin geen voorraad gehad nie en die geld was maar min. Mettertyd het ons al meer dekorvoorraad aangekoop en vandag kan ons spog met ‘n wye verskeidenheid vir alle smake,” sê Hannes.
Die onderneming is tot middel 2011 van hul huis in Sasolburg af bedryf, waarna hulle dit na hul huidige perseel in Rabiestraat 10, Vanderbijlpark verskuif het.
Vir Hannes en Yolandi lê die suksesresep van hul onderneming daarin dat hulle as eienaars intensief betrokke is by die verskaffing van die vars blomme en opstelling van die dekor vir hul kliënte. Hulle lê baie klem op detail en loop die ekstra myl met ‘n glimlag vir hul kliënte, ongeag of dit ‘n korporatiewe geleentheid vir ‘n maatskappy, ‘n troue of ‘n ander spesiale klein viering is. Buiten dat hulle self opstellings doen, verhuur hulle ook hul dekor uit.
Kontak Hannes en Yolandi gerus by 074 927 2707 of per e-pos by hannes@sweetpeahire.co.za om meer oor hul dienste uit te vind.









Sien nog foto’s op Sweet Pea se Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=100063733022966
