Alida de Greef was ‘n wol- en brei-kenner van formaat
Mev. Alida Greef (1929-2023) was vir dekades bekend in Vanderbijlpark as die eienaar van die wolwinkel in die hoofstraat.
VANDERBIJLPARK. – Mev. Alida de Greef was vir dekades bekend as die ‘wol-tannie’ van die Vaal.
Haar Breiwol & Hobby-winkel was die plek waar Vaaldriehoekers gaan aanklop het vir wol, tapisseries, patrone, breinaalde en raad.
Sy het die winkel in President Krugerstraat in 1972 oopgemaak en is as ‘n kenner op haar gebied beskou.

“Ek het altyd my tapisseries vir haar geneem om die wol en kleure uit te soek. Wanneer ek dit dan later gaan haal het, het sy elke kleur perfek gehad en uitgemerk. Ons het baie keer in ons etenstye daar gaan inloer,” onthou een van haar voormalige kliënte.
Mev. De Greef het die winkel tot in 2001 bedryf. Selfs na haar aftrede het brei haar passie gebly en is haar kinders en kleinkinders gereeld met handgebreide truie verras.
Die afgelope tyd was haar gesondheid nie na wense nie en Sondag, 19 Maart is sy kort na ‘n operasie oorlede.
Mev. De Greef is 21 Junie 1929 in Broechem, België gebore. Sy het haar skoolloopbaan in Lier voltooi, waarna sy ‘n diploma in Handelsneming gevolg het.
Sy is 15 Januarie 1949 met Marcel de Greef getroud. Die egpaar het in die vroeë 1960’s na Suid-Afrika geïmmigreer waar hul eers in Johannesburg en later in Vanderbijlpark gewoon het.
Nadat sy eers as kantoorassistent by ‘n meubelhandelaar gewerk het, het mev. De Greef ook vir Standard Bank gewerk alvorens sy die wolwinkel in 1972 geopen het.
Haar seun Frank, vertel dat sy ma ‘n groot passie vir regte wol gehad het en glad nie van sintetiese wol gehou het nie.
Sy het ook baie van die winkelwese gehou en met tyd het die De Greefs verskeie besighede in die Vaaldriehoek gehad.
Die egpaar het sewe kinders gehad. Mev. De Greef word oorleef deur vier kinders, agt kleinkinders en agt agterkleinkinders.
Haar gedenkdiens het Donderdag, 30 Maart vanuit die St. Francis of Assisi Catholic Church in Vanderbijlpark plaasgevind.
