1 April se toiletpapierstorie: Het jy dit geglo?
Gelukkig gaan dubbellaag nie van die mark af nie!
Sit gemaklik terug op jul trone en ontspan daardie kuite… Ons land se dubbellaagtoiletpapier gaan nêrens nie!
Soos baie van ons lesers geraai het, was vroeër vandag se berig en waarskuwing oor verwagte splinters in die “nuwe enkellaagtoiletpapier” suiwer bollie. Dit was net Vaalweekblad se Gekkedagberig!
Wetgewing oor toiletpapier het nie verander nie en die organisasies sowel as die woordvoerders wat in die berig aangehaal is, is almal fiktief, behalwe vir prof. Theo Venter wat met sy lekker humorsin, goedgunstiglik ingestem het om deel van die grapberig te wees.
Ons bedank hom vir sy pittige kommentaar waarmee hy ekstra geloofwaardigheid aan die berig gegee het.
Baie dankie ook aan die duisende lesers wat die berig gedeel het – of julle dit nou geglo het of nie.
Ons het jul gepaste (en soms onvanpaste) kommentaar vreeslik geniet!
Volgende jaar maak ons weer so…

As jy die oorspronklike Gekkedagberig misgekyk het, lees dit hier onder, maar onthou, dit is alles nonsens!:
Waarskuwing: Pas op vir splinters in nuwe toiletpapier!
Totsiens dubbellaag, hallo skuurpapier in die kleinhuisie…
Waardeer vir oulaas jou fluweelsagte dubbellaag-toiletpapier as jy op die troon in jou kleinkamertjie sit want dit gaan binnekort net so skaars soos tydens die inperking wees. Die enigste verskil is dat dit hierdie keer nie na die winkelrakke gaan terugkeer nie.
Die Liga van Toiletpapiervervaardigers het gister skok uitgespreek oor omstrede veranderinge aan die Trade Metrology Act van 1973, wat bepaal dat die hoeveelheid toiletpapier wat per jaar deur vervaardigers geproduseer mag word, met die helfte gesny word. Dit sal na verwagting binnekort tot ‘n kritieke tekort aan toiletpapier lei. Boonop mag slegs enkellaagtoiletpapier voortaan vervaardig en verkoop word, tensy ‘n vervaardiger ‘n spesiale lisensie bekom om ‘n beperkte hoeveelheid dubbellaagrolle op regeringsbestelling te mag lewer, soos byvoorbeeld vir hooggeplaaste besoekers uit die buiteland.
Die veranderde wetgewing is gister in die Staatskoerant gepubliseer en bepaal voorts dat toiletpapier voortaan nie meer van verfynde pulp gemaak mag word nie maar van rou pulp wat hoofsaaklik uit growwer houtsaagsels, houtbas en bamboes bestaan. Die nuwe wetgewing, waarvoor die Department van Water & Sanitasie al jare lank voorbrand maak, stem ooreen met wêreldwye neigings om na omgewingsvriendeliker vervaardiginsprosesse oor te skakel.
“Ons het begrip vir die regering se ‘groen-dryfkrag’, maar onverwerkte rou pulp gaan onvermydelik veroorsaak dat toiletpapier baie harder en growwer as voorheen gaan wees. Ons sal waarskynlik ‘n waarskuwing op die verpakking moet aanbring om verbruikers te waarsku teen splinters!” sê dr. Tolman Dannhauser, woordvoerder van die Liga van Toiletpapiervervaardigers.
Mev. Meredith Mountridge, voorsitter van die verbruikersorganisasie Consumer Quality Watchdog, sê die organisasie is hoogs ontstoke omdat nuwe wetgewing deurgedruk is sonder dat die publiek en vervaardigers se mening behoorlik ingewin is. “Daar word van die publiek verwag om die sensitiefste dele van ons anatomie met rasperpapier te beseer terwyl Parlementariërs waarskynlik steeds toegang tot luukse geparfumeerde, ge-embosseerde, ultra-sagte dubbellaagpapier sal hê. Dis nie regverdig nie en druis in teen ubuntu,” sê sy.
Die ekonomiese ontleder, prof. Koedoe Bonthuys van Unisa se Sakeskool, sê die nuwe wetgewing is die regering se ergste inmenging nóg in die mees persoonlike sake van miljoene Suid-Afrikaners. “Buiten vir die ongerief vir Jan Alleman, gaan die inkrimping van die toiletpapiervervaardigingsektor wat tans sowat R1.5 biljoen werd is, ook baie nadelig vir die land se ekonomie wees. Ek voorspel hier gaan binnekort ‘n smokkelnetwerk vir dubbellaagrolle ontstaan wat die onwettige sigarethandel van 2020 na ‘n kleuterskool-kamerverlaat sal laat lyk,” is sy mening.
Die bekende politieke ontleder en beleidspesialis, prof. Theo Venter van die Universiteit van Johannesburg, is egter meer positief oor die verwikkelinge. “Ons is terug by die mieliestronk… dit gaan baie vir landbou beteken en krag spaar want dubbellaagtoiletpapier is baie energie-intensief,” is sy kommentaar.
