KYK: Afrika-kampioen met helikopter by skool afgelaai
Anje Holtzhausen, 'n graad 11-leerder wat 'n goue medalje in hamergooi (o.18) by die Afrika-kampioenskappe verower het, het Maandag (15 Mei 2023) met 'n helikopter by haar skool, Vereeniging Gimnasium, geland. Die rooi tapyt is ook vir haar uitgerol.
*Volledige storie in Vaalweekblad se gedrukte koerant.
VEREENIGING. – Gimmies se ster-hamergooier, Anje Holtzhausen, het ‘n goue medalje by die Konfederasie van Afrika-atletiek (CAA) se Junior Afrika-kampioenskappe vir o.18 en o.20 atlete in Ndola in Zambië behaal met ‘n uitstekende gooi van 57.17 meter.
Die graad 11-leerder aan Vereeniging Gimnasium, wat vroeër vanjaar goue medaljes by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se baan- en veldkampioenskappe in Pietermaritzburg en by Suid-Afrika Skoleatletiek (SASA) se nasionale hoërskoolkampioenskappe in Germiston behaal het, het tussen 29 April en 3 Mei as ‘n lid van die Suid-Afrikaanse span aan die kompetisie deelgeneem.
Sy is nog betreklik nuut in die sport.

Anje vertel dat die hamergooi-gogga haar sowat drie jaar gelede gebyt het toe sy in 2021 na Vereeniging Gimnasium gekom het en Juffrou Nanette Stapelberg haar aan die velditem voorgestel het.
Dit was nie lank nie, of Anje het aan die 2021 Suid-Afrikaanse kampioenskappe in die Paarl deelgeneem.
Nadat sy by die afrigter, Chris Harmse se oefengroep aangesluit het, het sy van krag tot krag gegaan.
Sy het in 2023 vir die eerste keer die SA-titel gewen.

Haar jaar het goed begin met puik vertonings by twee verskillende nasionale kampioenskappe waar sy twee keer goud behaal het en boonop ‘n nuwe hamergooi rekord opgestel het.
Haar internasionale prestasie in Zambië span tot dusver egter die kroon op haar loopbaan as hamergooier.
Dit is ook die beste afstand wat Anje nog gegooi het.
Anje is ook ‘n kranige karateka en skopbokser. Sy gaan in Junie aan die Suid-Afrikaanse karate en skopbokskampioenskappe deelneem.
Sy is ook gekies vir die tentatiewe Protea-span wat in 2024 aan ‘n wêreldkampioenskappe in Duitsland gaan deelneem.

